In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk (Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees Genesis 11:1-9
“Toe sê hulle: ‘Kom ons bou vir ons ’n stad met ’n toring waarvan die punt tot in die hemel reik en ons maak vir ons ’n naam. Dan sal ons nie oor die hele aarde versprei nie …’”
Oordenking
Baie mense, dalk die mederheid, wil belangrik wees, wil geken word. As kinders droom ons drome oor eendag; drome van grootheid en mag, van selfstandigheid en onafhanklikheid, van ’n naam. Ons bestaan word deur dié grootheidswaan gekenmerk. Ons dink meer van onsself as wat goed is. Ons oorskry ons grense en dink ons kan alles self doen. Ons dink ons waarde lê in dinge wat ons besit, tradisie waaruit ons kom of groepe waaraan ons behoort. Dié mens dink die tegnologie en vernuf verhef ons tot grootheid en mag. Dié mens staan teenoor God. Genesis 11 vertel juis van sulke mense. Hulle het besluit om ’n stad te bou met ’n toring as simbool van hul eie naam. Dit sou hulle ontwikkelingsvlak en beskawing teken, hulle mondigheid en gewaande grootheid om ’n eie geskiedenis te maak.
Ons rig ook so simbole en tekens op om ons selfstandige posisie teenoor God uit te druk. Tydens die Middeleeue het jou werk jou plek in die sosiale rangorde bepaal. Jou status is deur jou werk bepaal. Die ironie is hoe dié lewenshouding die bou van die Gotiese katedrale en ander geboue sedertdien beïnvloed het. Dié katedrale was bedoel as plekke waarin God aanbid word. Toe word dit ongelukkig simbole van die hoë waardering vir menslike vakmanskap en van selfverering.
Op 3 Mei 1851 verskyn ’n artikel in die Londense, The Economist, na aanleiding van die groot tegnologiese uitstalling in die Crystal Palace. Die redakteur skryf dat dié gebou die simbool is van wat werk en industrie vermag het. Oor die morele betekenis van dié groot uitstalling, skryf hy: “Die koningin van die magtigste ryk op aarde (Brittanje) was op gepaste wyse by die inwyding van die tempel, opgerig tot eer van dié magtige ryk, betrokke.” Die industrie het vir die Britse Ryk naam gemaak. Die industrie, tegnologie en werkende mens verdien ’n tempel. Hy skryf voorts: “Die kontraste en teenstrydighede wat in ons leeftyd gesien en beleef is, vroeëre veragting van die nederige industrie teenoor die huidige eer wat dit verdien, getuig van ’n hoër eer. Dit bewys die morele ontwikkelinge wat reeds plaasgevind het. Dié morele vooruitgang gee die absolute versekering dat daar ’n groter en hoër bestemming op ons nageslag wag, selfs hier op aarde.”
So klink die stem van die opgeblase mens. Die grootheid in ons eie oë. Dit is stelling inneem teenoor God. Dit ontken ons behoefte aan God se seën en die belang van gehoorsaamheid aan sy opdragte. Die opgeblase mens maak God klein en onbelangrik. Dié grootheidswaan kan ons uit ons nate laat bars. Só was dit selfs vroeër onder Jesus se dissipels (Matt 18:1). Die dissipels vra toe vir Jesus: “Wie is die belangrikste in die Koninkryk van die hemel?” God lag as ons in ons eie oë groot en belangrik raak. Hy maak sy oë as’t ware op skrefies om ons katedrale en kristalpaleise raak te sien. Genesis 11 vertel as’t ware met ’n glimlag dat God uit sy hemel moes afkom om die toring van Babel in die Sinar-vlakte te sien. Dié bouwerk wat groot naam moes maak, was in God se oë maar effentjies.
God soek nie belangrike en groot mense vol opgeblasenheid en grootheidswaan nie. Hy steur Hom aan die geringes, dié wat tevrede is om sy Naam te eer. In Matteus 18:4 sê Jesus vir sy dissipels: “Wie homself gering ag soos hierdie kindjie, hy is die belangrikste in die koninkryk van die hemel. En wie so ’n kindjie in My Naam ontvang, ontvang My.”