Wat leer ons van saaiboerdery oor dissipelskap?

Uit die Revised Common Lectionary (RCL) vir die komende week (24 – 28 Julie 2023)

MATTEUS 13:1-9, 18-23

Ons dink in Koninkrykstyd oor Christus se heerskappy en navolging van Jesus as sy dissipels. Matteus 13:1-9, 18-23 is die evangelielesing vir die sewende week van Koninkrykstyd in Jaar A van die Liturgiese Jaar. Dit is deel van die derde literêre eenheid (11:2 tot 13:53) van Matteus se vertelling oor Jesus se aardse bediening. Matteus 13 bestaan uit ’n aantal gelykenisse waardeur Jesus die skare wat Hom gevolg het, onderrig. Hierdie hoofstuk volg op Jesus se twisgesprekke met die Joodse leiers (Matt 11-12) wat afsluit met Jesus se uitspraak oor wie sy ware familie is (12:50). Deur Jesus se onderrig en werke groei ’n gemeenskap van volgelinge wat sy familie vorm.

Die twee gedeeltes van Matteus 13 wat hier bespreek word, handel oor die gelykenis van die saaier (vers 1-9) en ’n allegoriese interpretasie daarvan (vers 18-23). Die verse (10-17) tussen die twee dele bied ’n uiteensetting van Jesus se doel met die vertel van gelykenisse in die onderrig van sy volgelinge.

Die gelykenis uit die landboubedryf kommunikeer iets oor Jesus se bediening en die uitbreiding van God se koninkryk. Ons kan dus sê die Koninkryk van God is soos ’n saaiboerdery, of Jesus se bediening is soos die werk van ’n saaiboer in die voorbereiding van ’n oes. In hierdie gelykenis is daar meerdere faktore in interaksie met mekaar, naamlik: die saaier, die saad en die grond, asook die uitkoms van die interaksie; suksesvol of mislukkend. Die saad skiet wortel, ontkiem en groei, of dit gaan dood.

Die punt van die gelykenis word bepaal deur die leser se invalshoek. Indien die invalshoek die saaier in die gelykenis is, is die fokus op Jesus se rol as brenger van God se koninkryk na die mensdom. Neem ons die saad as uitgangspunt, kom Jesus se onderrig oor verskillende soorte geloof ter sprake; ’n paar soorte geloof is vrugbaar en een soort is onvrugbaar. ’n Derde invalshoek neem die grond as fokus. Dan val die klem van Jesus se lering weer op die verantwoordelikheid van hulle wat Jesus se boodskap hoor. Indien jy die vierdie fokus kies, die kwessie van sukses teenoor mislukking van die saaiproses, kom die aanvanklike gemengde ontvangs van die evangelie teenoor die uiteindelike aanbreek van die Koninkryk aan die orde. Die treurige begin word oorskadu deur die wonderlike einde.

Die meervoudige uitlegmoontlikhede beklemtoon die rykdom aan betekenis van die gelykenis. Jesus se allegoriese uitleg in vers 18-23 bied ’n vasgestelde interpretasie van die gelykenis, maar beteken nie dat geen ander moontlikheid bestaan nie. Vir dissipels van Jesus wat sy onderrig ernstig wil neem en in hul persoonlike lewe en bediening (ook Arbeidsbediening) wil toepas, bied die dinamiese aard van hierdie gelykenis ’n rykdom moontlikhede.

Dit nooi ons uit om oor Christus na te dink, of/en oor geloof, asook oor die verantwoordelikheid van dissipelskap, of/en oor die heerlike oorwinning van die Koninkryk van God te midde van terugslae en teleurstellings.