Bid tot God in die werkplek

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk (Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Jokobus 1:2-8

 

“As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan Hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

 

Oordenking

 Om in ’n sosiale- en arbeidswêreld soos ons s’n, wat op konflik gebou is, sin te maak, selfs net van enkele dinge wat daagliks met mense gebeur, vra baie wysheid.

Jakobus se eerste lesers het in “allerlei beproewinge” en versoekinge en konflikte beland. Hulle het wysheid kortgekom. Hy skryf om raad te gee, sodat hulle heelheid, genesing en volheid kon ervaar. In vers 4 lees ons die doel van dié brief. Jakobus spoor sy lesers aan om met die konflik en tweespalt wat hulle verdeel, af te reken. Want dié verdeeldheid laat hulle twyfel en maak hulle onbestendig. In tye van konflik is twyfel en onbestendigheid juis eienskappe wat ons die minste nodig het.

Die Griekse woord vir twyfel (dipsuchos), beteken letterlik om twee harte te hê. Mense wat op twee gedagtes hink en nie reg weet wat om te doen nie, ervaar konflik – innerlik en uiterlik. Jakobus se lesers was as’t ware tussen twee wêrelde verskeur. Die vleeslike waardes van die wêreld het ’n appél op hulle gemaak. Andersyds het hulle die eis van God ervaar om Hom te verheerlik. Dié twee kragte het meegeding om hulle lojaliteit. Hulle beproewings word vir hulle versoekinge.

Kom ons kyk na die arbeidswêreld en Christene se deelname daaraan in die lig van ons teks. Die arbeidswêreld bring uiteenlopende mense rondom ’n gemeenskaplike doelwit saam. Dit bring noodwendig konflik en verdeeldheid in verhoudinge. Mense met verskillende waardestelsels en agtergronde, kom saam om ekonomiese doelwitte te bereik. Werk om den brode, kan dus maklik ’n stryd om selfhandhawing wees. In die werkplek kan partye, selfs Christene, soos vyande in konflik lewe. In die werkplek kan versoekinge die verhoudinge vernietig. Werk kan dus ’n beproewing word. Jakobus se raad? Bid daarom vir God om wysheid.

Elke Christen wat die arbeidsterrein betree, word deel van ’n verhouding met ’n netwerk van ingewikkelde beproewinge. Die groot gesin van die werkbank het baie wysheid en deursettingsvermoë nodig, om onderlinge verhoudinge te laat slaag. Christene het hierin ’n besondere rol.

Die eerste lesers van Jakobus se brief weet dat God die bron van wysheid en raad is. Hulle probleem is egter dat hulle selfs in hul gebede nie oortuig is van wat hulle eintlik wil hê nie. Hul harte is verdeeld. Hulle kom iets kort, maar weet nie mooi wat nie. Daarmee wil Jakobus help. Die beproewings is nie onoorkomelik nie en kan selfs nog ten goede vir hulle meewerk. God sal hulle sonder voorbehoud help, sonder verwyt. Hy sal hulle die nodige wysheid gee, die nodige raad …, as hulle bid. Máár, sê Jakobus, dan moet hulle gelowig bid en nie twyfel nie.

“Twyfel”, leer Jakobus, is om in verskillende rigtings gejaag te word – soos ’n brander in die see deur die wind gedryf word. Moenie as jy bid, op twee gedagtes hink oor wat jy eintlik wil hê nie. As jy wysheid vra terwyl jy eintlik jou eie soort verhoring verlang, word jy in twee rigtings gejaag en misbruik jy die gebed. Vers 6 sê dat wie bid, moet gelowig bid. Dus, as gelowiges. As mense wat nie slegs sê en bely dat hulle glo nie, maar wat daadwerklik op God vertrou.

My en jou gebede in die werkswêreld moet geloof in God weerspieël, onverdeelde harte.