In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees Lukas 4:1-13
“Toe bring die duiwel Jesus op ’n hoë berg en wys Hom in ’n oogwink al die koninkryke van die aarde. Die duiwel sê toe: ‘As U my aanbid, sal alles aan U behoort.’ Jesus antwoord hom: ‘Gaan weg agter my, Satan, want daar is geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien”.’”
Oordenking
Ek het ’n belangrike vraag vir jou: Wat is jou diepste dryfveer in die lewe? Ek stel dit nog ’n keer, of op ‘n ander manier: Wat spoor jou aan? Waarop is jy ten diepste gefokus? Wat is vir jou werklik belangrik? Waarmee bly jou gedagtes besig? Waaraan is jou hart verkleef? Wat is jou diepste ideaal of begeerte; dalk baie besittings, of mag, of ’n belangrike posisie, of ’n lekker lewe?
Dit is presies met dié soort vrae waarmee die Satan, van wie ons in Lukas 4 lees, vir Jesus Christus gekonfronteer het. Jesus was alleen, nes jy dalk nou is. Jesus was baie lank in die woestyn afgesonderd, waarskynlik honger en dus broos en beïnvloedbaar. Op dié oomblik versoek die Satan Hom, en probeer begeertes by Jesus opwek: ’n belangrike posisie, mag, baie besittings, groot geldelike voorspoed. Dink net ’n bietjie … Die Satan belowe vir Jesus koningskap oor al die koninkryke van die aarde.
Maar daar is ’n voorwaarde hierby. Jesus moet voor Satan buig en sy heerskappy aanvaar. Hy moet die versorging van sy eie behoeftes eerste stel. Hy moet toegee aan die begeerte om posisie en mag te bekom. Dan sal alles aan Hom behoort. Net dit. Begeer dit van my, sê die Satan, en dis joune. Alles …
Wat is jou diepste dryfveer? Begeerte?
Genadiglik gee Jesus nie aan die versoeking toe nie. Die Bybel vertel dat Jesus in der waarheid die Satan teenspreek: “Gaan weg agter My Satan. Daar is geskryf dat jy die Here jou God moet aanbid en Hom alleen dien. Dit is my diepste begeerte,” sê Jesus. “Om my Vader se wil te doen, is my lus. Daarop is Ek ingestel. Nie wat Ek wil nie, maar wat Hy wil, rig my lewe en is my diepste dryfveer. Ek weet dat al die koninkryke van die aarde reeds syne is en dat Hy die werklike Heerser oor die konings van die aarde is. Om Hom te ken en sy wil te doen, is my hartsbegeerte. Nie my wil en begeerte nie, maar sy wil geskied. Ook al bring dit ook vir Myself ’n kruisweg.” Só redeneer Jesus met die Satan.
Is jy ook so aan die Vader oorgegee? Kan jy ook dié soort versoekings trotseer? Is jou hart ook só aan die wil van die Vader onderwerp?
Jy gaan bes moontlik vandag en later in jou lewe weer allerlei versoekings beleef. Jy kan óf daaraan toegee en die hele wêreld wen, maar aan jou siel skade lei.
Óf jy kan, soos Jesus, bely dat jou hart op die wil van God ingestel is, en dat dit jou diepste dryfveer is om sy koninkryk doelbewus uit te brei, in alle omstandighede en in alle tye, by die huis en in jou werkplek.
Wat is jou diepste dryfveer?