Gemeet, getoets en eg bevind

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees 1 Konings 10:6

“Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom het en myself oortuig het.”

 

Oordenking

 Toetse en eksamens is vir baie mense bekend. Op persoonlike vlak is eksamens en toetse egter nie die gewildste tydverdryf onder mense nie. Niemand hou daarvan om getoets of geëvalueer te word nie. Dink net aan skoolkinders en studente se suur gesigte in eksamentyd. Ons hou nie van toetse en eksamens nie, maar dit is een van daardie noodsaaklikhede waarmee ons moet saamleef.

Vandag is selfs ons werksplekke gereelde omgewings van toetsing. Mense word opgelei en voortdurend getoets ten opsigte van vordering, bekwaamheid en toegepaste kundigheid. Daarby verwag mense ook een of ander kwaliteitstandaard, voordat produkte gekoop word. In Suid-Afrika is ’n Buro vir Standaarde. Die SABS-merk sê dat die produk aan die vereistes van dié Buro voldoen. Uiteindelik weet ons, dit is nie die SABS-merk wat die standaard bepaal nie, maar hoe die produk in ’n praktiese gebruiksituasie presteer. Die praktyk is die werklike waardetoets. Die egtheid van wat van die produk gesê word, moet getoets word. Inderdaad, die lewe bestaan uit evaluering en beoordeling. Ons onderwerp mekaar ook aan toetse en standaarde. Ons wil die egtheid van aansprake en uitsprake evalueer. Ons wil vasstel of ’n persoon en instansie se aansprake en uitsette met mekaar rym.

Toetsing en evaluering is ook uit die Bybel bekend. 1 Konings 10 vertel byvoorbeeld van ’n internasionale diplomatieke evaluering. Ons lees daar van ’n besoek deur die koningin van Skeba aan koning Salomo. Sy het doelbewus gekom om hom te toets. Sy het van dié opkomende koning en van sy werke gehoor, maar sy het oor die stories wat sy gehoor het getwyfel. Sy wou self vasstel of die praatjies feitelik waar was. Met haar besoek aan koning Salomo onderwerp sy hom op eie bodem aan ’n streng internasionale eksamen. Ja, sy het self na Salomo toe gekom om hom met moeilike vrae te toets, lees ons.

Uiteindelik sê sy in vers 6 vir Salomo dat hy haar eksamen geslaag het: “Wat ek in my land oor u en u wysheid gehoor het, is waar. Ek het nie geglo wat hulle vir my gesê het nie totdat ek gekom het en myself oortuig het.” Salomo, so besluit sy, is die titel van “wyse koning” waardig. Die waarheid van die stories oor hom, is vir haar bevestig. Ons kan sê, Salomo dra nie alleen die SABS-merk nie. Hy presteer ook volgens die gestelde standaard. Die koningin het vasgestel dat die stories wat sy gehoor het eg en betroubaar was, want dit het gepas by die mens wat sy self ontmoet het.

In ons samelewing en werksomgewings vandag is daar groot behoefte aan opregtheid, aan betroubaarheid, aan integriteit. Ons samelewing en mense in ander lande word gereeld gekonfronteer met ontmoedigende verhale van korrupsie en oneerlikheid. Leiers in die openbare- en sakewêreld maak aansprake wat nie die toets van geloofwaardigheid kan deurstaan nie. Hulle verkondig die leuen in die naam van die waarheid. Onder baie werkers in maatskappye en fabrieke word reëls en regulasies gebuig en verdraai om eie belange te dien. Om te vat wat nie joune is nie of om afskeep werk te doen, is vir baie mense aanvaarbaar.

Salomo se uitstaande werk is wyd en syd verkondig. Die koningin van Skeba het bevind dit is eg, vertel die Bybel. Die vraag is, dra my en jou lewe en werk ook vir ander mense en vir die Here, die stempel van egtheid, betroubaarheid en integriteit?