Die genadige Here voorsien altyd weer

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Genesis 22:1-19

“Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien. Jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

 

Oordenking

 Dieselfde Hebreeuse woord wat in 1 Konings 10:1 vertaal is met die Afrikaanse woord “toets”, tref ons ook in Genesis 22:1 aan, maar hier beskryf die woordjie ’n geloofstoets. God stel vir Abraham, die vader van die gelowiges, ’n eksamenvraestel op. Die Nuwe Afrikaanse Bybel vertaal dié Hebreeuse woordjie in die Abraham-verhaal, met die uitdrukking “op die proef stel”. God het Abraham se geloofsuitsprake in ’n praktiese lewensituasie op die proef gestel. God wou vasstel of Abraham se woorde met sy dade rym. God wou die egtheid van Abraham se geloof bepaal.

Die verrassende is nou dat God klaarblyklik nie ’n skriftelike of mondelinge eksamen as die beste toets vir die egtheid van my en jou geloof beskou nie. In die Abraham-verhaal beskou God geloof as praktiese gehoorsaamheid, as diens en onderwerping aan sy wil. Die Here toets die egtheid van Abraham se geloof in sy sigbare dade van gehoorsaamheid en in diens aan God. Ons hoor vir God in Genesis 22:2 aan Abraham sê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet … en gaan offer hom as brandoffer.” Nou het die praktiese geloofstoets vir Abraham aangebreek.

Wou God weet of Abraham nie maar net gesê het dat Hy in God glo nie? Wou die Here seker maak Abraham glo nie maar net omdat God vir hom ’n groot nageslag, ’n eie land en ’n geseënde lewe belowe het nie? Wou die Here vasstel of Abraham Hom werklik vertrou het met alles wat hy gehad het, ja selfs met sy kosbaarste besitting, sy seun Isak, die wonderkind van sy oudag? Hierdie geloofstoets kon Abraham slegs in die harde werklikheid aflê. Dit was vir hom verskriklik! Dit het geskyn of die Here sy genade, sy gawe wou terugneem, of God teen sy eie aard wou optree.

In sulke ontwrigtende omstandighede kom ’n mens se beskouing van God eensklaps in gedrang. Abraham word gekonfronteer met ’n gesig van God wat hy nog nie voorheen gesien het nie. Hy sou saam met die digter van Psalm 77:11 kon sê: “My grootste smart is dat die Allerhoogste nie handel soos voorheen nie.” Dit is juis die toets. God wil weet of Abraham Hom sal aanhou dien, selfs as Hy die ondenkbare doen en Abraham se seun van hom eis. Sou Abraham bly glo? Sou hy enduit gehoorsaam wees? Sou hy die Here bly volg?

Die dieptepunt van hierdie verhaal draai om die vraag of ek en jy wat sê dat ons vir God liefhet en in Hom glo, bereid is om God te dien, in lewe en werk, ook wanneer Hy van my eis om myself te verloën, my kruis op te neem en Hom te volg. Daarop sal ons waarskynlik ‘ja’ wil bly antwoord. Máár, kan ek en jy God bly dien wat enigiets van ons kan vra en dit inderdaad ook van ons vra? Dit was die kern van Abraham se geloofstoets. In vers 12 lees ons dat Abraham wel God se eksamen geslaag het. Toe sê God: “Los jou seun! Moenie iets aan hom doen nie. Nou weet Ek dat jy My dien. Jy het nie geweier om jou seun, jou enigste seun, aan My te offer nie.”

God het geoordeel Abraham se geloofsuitsprake was eg en sy motiewe opreg, vertel die Genesis-skrywer. Toe noem Abraham die plek: “Die Here voorsien.” Daar word nou nog gesê: “Op die berg van die Here word voorsien.” Dit is die uiteindelike troos. Die Here wat ons geloof toets, soms tot die uiterste toe, laat ons nie alleen nie. Hy sorg vir uitkoms. Hy voorsien altyd weer.