Jou hande in God se diens

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Eksodus 3:1-12; 4:1-5

“Daarom stuur Ek jou na die farao toe sodat jy my volk, die Israeliete, uit Egipte kan bevry. Toe vra die Here vir Moses: ‘Wat het jy in jou hand?’”

 

Oordenking

’n Man het in die woestyn verdwaal. Na ’n paar dae se rondswerf was hy moedeloos. Radeloos het hy gaan sit en tot God gebid. Later het hy dié verhaal vir ’n vriend vertel. Dié vra toe: “Het die Here jou gebed verhoor en jou gehelp?” Hy het sinies geantwoord: “Nee. God het niks gedoen nie. As dit nie was vir ’n man wat kort daarna op ’n kameel verbygekom het nie, het ek seker vandag nog daar gesit.”

Ons kan so oor God te dink en te praat, dat Hy ’n vreemde en veraf God word. God is vir ons ’n vreemdeling wanneer ons dink ons nie vir Hom aanvaarbaar is nie – nie aan sy vereistes voldoen, of goed genoeg is om in sy diens te staan nie.

Ons maak soos die verdwaalde man in die woestyn en soos Moses in Eksodus 3:11. Ons sien nie vir God raak nie en probeer eerder van Hom af wegvlug. Wanneer God vir Moses roep, sê Moses: “Wie is ek dat ek dit by die farao sou waag en dat ek die Israeliete uit Egipte sou bevry?” Ons het ook dié probleem. Moontlik omdat ons nie ons gawes om Hom mee te dien, herken nie. Ons antwoord ook soos Moses wanneer God ons roep: “Wie is ek…?” Dit is ons Moses-geaardheid.

Dink na oor God se antwoord aan Moses in Eksodus 42. Hy wys Moses op sy eie toerusting: “Wat het jy in jou hand?” Moses antwoord: “Net ’n kierie, Here!” Toe sê die Here vir hom: “Gebruik dit om die farao te oortuig dat Ek jou gestuur het om die Israeliete uit Egipte te bevry.” God gebruik ook vir ons met wat ons het. Wat het jy in jou hand om God te dien? Hoe gebruik jy jou werk in God se diens?

Ons Moses-geaardheid skep by ons ’n minderwaardigheidsgevoel. Dit verlei ons om die gawes en talente wat God skenk, met ander se oënskynlik buitengewone bekwaamhede te vergelyk, om dan terug te trek en te sê ek is nie in staat om iets te doen nie. Mense dink soms hul sosiale posisie en status is té eenvoudig om werklik vir iemand iets te beteken.

Wanneer God ons roep, maak Hy ons van ons toerusting bewus, byvoorbeeld ons hande wat ons dalk as nutteloos beskou. Tog is my en jou hande wonderlike toerusting in God se diens. Jy kan jou hande biddend saamslaan om te vra, of dit dankbaar na God toe uitsteek om te ontvang, of dit in simpatie vir jou naaste aanbied om te help en te troos. Jou hande is ’n gawe van God. Waarvoor gebruik jy dit?

Jy kan ’n verskil maak met jou hande in die werkplek waar jy elke dag is. God wil jou ook met die toerusting in jou hande gebruik: ’n koekroller, gereedskapstuk, pen en potlood, musiekinstrument, naaimasjien … Het jy die toerusting in jou hand, die gawes wat jy ontvang het, die werk wat jy daagliks doen, al in God se diens gestel?

Jy kan natuurlik ook jou hande verkeerd gebruik, vernietigend, met ’n wapen om ander mee te dood, óf ’n stok om ander mee te slaan. Jy kan jou hand vir God en jou naaste toemaak, óf jy kan jou hande tuishou. Niemand moet iets van jou verwag nie.

Wat het jy in jou hand? Wat doen jy daarmee? Gee dit aan God terug. Miskien wil Hy dit gebruik om ’n verdwaalde swerwer in die woestyn te red.