Werksgenot

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Prediker 1:12-18; 2:24-26; 9:9-10

“God het ’n harde taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.” (1:13)

 

Oordenking

’n Groot deel van die lewe bestaan uit werk. Die vraag oor die betekenis van werk in mense se lewe, is ’n algemeen menslike vraag. Vir werklose mense is die vraag, of hulle hul daaglikse werk as vreugde of pyn ervaar, moeiliker as vir hulle wat die voorreg het van ’n voltydse werk. Wie in ’n betaalde werk staan, behoort weer ’n slag die vraag eerlik te oordink of ons geniet wat ons doen en of dit sinvol is.

Nadat die Prediker die lewe bestudeer het, kom hy in hoofstuk 1:13 tot dié gevolgtrekking: “God het ’n moeilike taak aan die mens gegee om hom mee besig te hou.” Die Prediker vind dat die lewe harde werk is en die lewenstaak ’n daaglikse inspanning. God dra aan die mens harde werk op: in fabrieke, skole en universiteite. Hy gee aan mense verstandelike vermoëns, geleenthede en gawes, om die lewenstaak só te vervul, dat die wesenlike van hul menswees daardeur na vore kom.

Daarom is dit belangrik om te vra: Waarom of waarvoor werk jy? Is dit om meer geld te verdien, of om mag en aansien in die samelewing te kry? As jy God se skeppingsdoel met die mens ernstig neem, sal jy weet God het ons tot sy eer geskep. Die harde taak waarvan die Prediker praat, het iets met ons bouwerk aan sy koninkryk te doen.

In hoofstuk 2:24-26 stel die Prediker twee lewenshoudings teenoor mekaar. Enersyds teken hy die mens wat voor God welgevallig is, en andersyds beskryf hy die “sondaar”-mens. Dié mens wat voor God welgevallig lewe, verstaan sy of haar lewenstaak as gawe uit God se hand. Om hard te werk en ’n gesin te kan versorg, is ’n geskenk van God.

Dus vra die Prediker: “Want wie kan eet en wie kan geniet sonder Hom?”

Teenoor die algemene wysheid van sy tyd, sê die Prediker dat dié mens wat voor God welgevallig leef, nie noodwendig materieel ryk is nie. Dié mens het egter wysheid en kennis en blydskap. Dit is kenmerke van ’n lewe in verhouding met God, gerig op die verheerliking van sy Naam. In dié verhouding kry jou dagtaak sin, as gawe van God en inspanning in sy diens. Só word elke taak ’n geleentheid vir vreugde en blydskap tot eer van God. Hierteenoor, leef ongelowige mense materialisties. Vir hulle gaan dit oor tasbare erkenning vir persoonlike bydraes en insette. Sulke mense se materiële behoeftes moet bevredig word.

Die Prediker sê dan die dood is die uiteinde van beide lewenshoudings. Of jy nou voor God welgevallig leef en werk en of jy net vir jouself werk, die enigste sekerheid is jou sterflikheid. Juis dáárom moedig hy sy lesers aan om die lewe te geniet en die kanse te benut. Die dood lê sekerlik vir ons voor (9:10).

Ons leef vandag twee en ’n half duisend jaar na die Prediker.  Ons weet God het die grense van die dood weggeskuif. Christus het die dood in sy opstanding oorwin. Vir God het elke geleentheid wat Hy aan die mens gee betekenis. Dit is ’n geleentheid om Hom te dien. Daarom is die Prediker se oproep in 9:10 ’n aanporing om God in dié lewe ook deur jou werk te dien: “Doen met toewyding alles wat jou hand vind om te doen, want in die doderyk waarheen jy op pad is, is daar nie werk of insig of kennis of wysheid nie.”

Mag dié perspektief vandag en môre genot bring en sin gee aan ons werk en diens in gemeenskap.