In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees Daniël 6:1-28
“Daniël het deur sy buitengewone bekwaamheid uitgeblink bo die ander ministers en die goewerneurs- generaal …” (6:4)
Oordenking
’n Sakemen sê by geleentheid hy is al moeg vir predikante wat met kitsresepte vir moderne mense wil vertel hoe om te lewe. Preke oor die rotteresies en dat ons daaruit moet loskom, irriteer hom erg. Hy weet hy is deel van die “rotteresies”, dat hy daarin vasgevang is en dat dit sy prioriteite beïnvloed.
Help ons mense werklik in die werkplek as ons vir hulle sê? “Julle moet vir God in julle besige programme plek maak!” Hoe maak mens plek vir God as jy voel jy het beheer verloor oor jou lewe? Hoe bepaal jy prioriteite as dit voel asof jou tyd nie jou eie is nie?
Daniël se geskiedenis gee ’n voorbeeld van iemand wat in sy besige lewe tyd gemaak het vir God. Hy was een van drie ministers wat oor die koninkryk van koning Darius moes beheer uitoefen. Nogtans het hy drie keer per dag in sy binnekamer gegaan om godsdiens te hou.
Twee aspekte van Daniël se voorbeeld is belangrik vir ’n gesprek oor prioriteite. Die eerste saak word net genoem, naamlik dat Daniël in ’n vreemde omgewing steeds vasgehou het aan die God van sy vaders. Daniël het selfs in die vreemde land met vreemde gode, nie opgehou om die God van Abraham, Isak en Jakob te dien nie. Tweedens het Daniël mense rondom hom beïnvloed. Koning Darius was dalk méér vasgevang in die “rotteresies” omdat hy hom deur sy eie dekreet in die regstelsel van die Mediërs en die Perse laat vasvang het.
Ons kan God steeds dien te midde van ’n besige lewe,
maar dan moet ons God opsoek.
Met dié dekreet wou hy homself verhef tot enigste god wat in sy koninkryk aanbid en gedien mag word. Toe hy egter sien wat die implikasies van die dekreet sou wees en dat hy niks kan doen om uit sy self-geskepte “rotteresies” te kom nie, het hy tog sy hoop geplaas op die God van Daniël. In vers 17 gaan hy moedeloos na Daniël toe en sê: “Mag jou God wat jy met soveel volharding dien, jou red.” Hoe kom ’n heiden soos Darius daartoe, om God in sy krisisuur met sy lewe te vertrou?
Die antwoord lê natuurlik in die genade van God, máár dit is ook die resultaat van Daniël se getroue diens aan God. Deur sy voorbeeld en volharding, het hy God aan Darius bekend gestel. Hoor wat sê Darius vir Daniël: “Jou God wat jy met soveel volharding dien …” Darius erken dat God in staat is om hom uit sy “rotteresies” te verlos. In vers 21 vra hy: “Daniël, dienaar van die lewende God, was die God wat jy met soveel volharding dien, in staat om jou van die leeus te red?” En nadat hy gehoor het hoe God sy almag aan Daniël bewys het, bely hy in vers 27: “Hy is die lewende God, Hy bestaan vir ewig. Hy doen tekens en wonders in die hemel en op die aarde.”
Hoor ek en jy nie dalk hiermee vir God in ons werkplek praat nie? Ons kan God steeds dien te midde van ’n besige lewe, maar dan moet ons God opsoek. Jou voorbeeld getuig van jou geloof in God. Daarom is dit lewensbelangrik om jou prioriteite te bepaal; vir jouself, maar ook vir die wêreld wat nog nie vir God ken nie.
Jou diens aan God in jou binnekamer, in die samekomste van gelowiges, in byeenkomste van jou gesin en gelowiges in die werkplek, is almal kante van jou verhouding met God. In die verhouding met ander leer hulle God ken in en deur jou lewe en werk – jou voorbeeld.