Uit die Revised Common Lectionary (RCL) vir die komende week (31 Julie tot 4 Augustus 2023)
GENESIS 28:10-19
Die Ou-Testamentiese verhaal oor Jakob leer ons meer van God se opsoekende liefde, asook van ons menslike natuur. Dié insigte bied perspektief vir ons kontemporêre lewe. Nadat Jakob sy vader Isak bedrieg het om sy broer Esau se eersgeboortereg te verkry, het hy vertrek om in Padan-Aram ’n vrou te gaan kry, volgens die seën wat Isak oor Jakob uitgespreek het. In ons Skrifgedeelte is Jakob op pad om ’n vrou te gaan haal, weg van sy broer Esau af. Dan word hy verras deur ’n onverwagte ontmoeting.
Op sy pad weg van die huis af, kom Jakob op ’n plek waar hy besluit om hom neer te lê vir die nag. Daar het hy ’n droom waarin hy die Here aan die bopunt van ’n trap sien staan en met hom praat. Die Here stel Hom aan Jabok bekend as die God van sy voorvader en sy vader. In die droom maak God vyf beloftes aan Jakob bekend, ook dat Hy Jakob sal beskerm oral waar hy gaan.
Jakob word uit sy slaap wakker en registreer sy bewuswording van God se teenwoordigheid: “Waarlik, die Here is op hierdie plek en ek, ek het dit nie besef nie” (vers 16). Die bewuswording dat God teenwoordig is het Jakob bang gemaak. Hy het die plek as vreesaanjaend aangevoel. Nog twee opmerkings oor die plek tref die leser in aansluiting by Jakob se besef dat God teenwoordig is. Jakob beskryf die plek in vers 17: “Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!”
Jakob se ervaring en sy reaksie daarop is vir Chistene belangrik. Sy ontmoeting met God op ’n onbeplande tydstip, terwyl hy self nie na God gesoek het nie, plaas die fokus op God se handeling en inisiatief. God soek Jakob op en is bereid om ’n verbintenis met Jakob aan te gaan, alhoewel Jakob in dié stadium nie werklik op God gerig was nie. Vir ons bied die werklikheid dat God na mense soos Jakob (en elkeen van ons) uitreik, terwyl hy (ons) nie self na God soek nie, troos en hoop.
Dit is juis hierdie toenaderende karakter van God wat aan die plek waar Jakob hom daardie nag bevind, geestelike betekenis gee. Omdat God na Jakob uitreik en hy daar God se teenwoordigheid beleef, word die plek vir hom die woonplek van God en ’n deurgang na God toe. Ons weet Jakob sou later in sy lewe wel met God by Jabbok worstel en daar ’n nuwe identiteit ontvang. Hier in Genesis 28 is daardie ontmoeting nog in die toekoms.
Die drie perspektiewe wat hier genoem word, is vir elkeen van ons belangrik. God soek mense op, Hy is teenwoordig waar hulle leef en die plek waar mens jouself bevind, is potensieel ’n plek van aanbidding en die woonplek van God. As ons hiervoor sensitief is, kry ons daaglikse lewe en leefruimtes nuwe betekenis. Dan wek die bewussyn in ons die afwagting dat God ons enige oomblik en enige plek kan verras. Dan is elke ruimte, ook die werkplek, ’n potensiële poort na die hemel toe.