‘n Gebed na aanleiding van Psalm 105:1-11.
O God van Jakob, U is die Here ons God!
Ons bely u almag wat die heelal omspan.
Dis ons voorreg as Abrahamsnageslag,
om u kinders te wees, u uitverkorenes.
Wanneer ons aanbiddend tot U nader –
vul herinneringe aan u goedheid ons wese;
dat U nooit u verbond vergeet,
dat die eed van u belofte aan die geslagte,
onwankelbaar vas staan.
Ons kan op U vertrou.
Daarom is die woordeskat van ons gebed lofprysend;
moet ons roep en sing:
Here is sy Naam!
Volke, neem kennis van sy dade!
Almal wat wil luister, ons getuig –
God doen wonderwerke.
Here, wanneer ons u troue liefde onthou –
wil ons U opsoek, u krag …
begeer ons u teenwoordigheid …
U is die Here ons God –
u beslissings geld oor die hele wêreld.
Ons wil U dien!
Ja, ons harte is bly in die Here.
Ons beroem ons in u heilige Naam.
Prys die Here!
Amen