Dien jou naaste met jou goed; rykdom vergaan!

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Jakobus 5:1-6

“En nou julle rykaards, kerm en kla oor al die swaar wat oor julle gaan kom … Julle rykdom sal tot niet gaan … Julle goud en silwer sal verroes … Julle maak skatte bymekaar, en dit terwyl dit die laaste dae is … Julle (lewe) in weelde en oordaad, julle smul na hartelus, en dit terwyl die slagdag (oordeelsdag) reeds daar is. Julle veroordeel en vermoor die onskuldige en bied geen weerstand nie.”

 

Oordenking

God se Woord belig ons verhouding met ons besittings en ons geldsake duidelik. Die teksgedeelte fokus op die verganklikheid van materiële rykdom. Jakobus die regverdige, Jesus se bloedbroer, skryf die woorde hierbo in sy brief aan gelowiges wat wyd verspreid gewoon en gewerk het in die destydse wêreld. Wat sou dit vir ons beteken?

Eenvoudig maar dat ons die verleiding en die misbruik van rykdom in ons eie situasie helder moet raaksien. Rykdom maak jou baie maklik onsensitief vir die behoefte van die behoeftiges. Rykes voel maklik vernaam en sterk. Hulle trap maklik op die behoeftiges en buit hulle uit. As jy ryk is, hou jy dalk hulle loon agter en betaal hulle te min. So manipuleer en beheer jy die behoeftiges se lewens. Jy maak hulle lewenslot bitter! Want jy maak vir jouself bymekaar. Hoe meer jy het, hoe meer wil jy hê. En jy vergeet, selfs goud en silwer sal verroes, dit sal verbygaan! Jou gierigheid na aardse skatte verblind uiteindelik jou uitsig op die geregtigheid van die hemel, waar die lot van die armes en die ellendiges vir God self baie na aan die hart lê! Die Bybel draai daaroor geen doekies om nie. Die Here gee om vir dié wat swaar kry: “Die Here gee brood aan die hongeriges … Hy beskerm vreemdelinge en Hy help weeskinders en weduwees.” (Ps 146:7, 9)

Jakobus sê aardse rykdom in ons hande is eintlik ’n rede vir weeklaag en huil, want dit werk so maklik ongeregtigheid in die hand, dit benadeel en verwoes dikwels soveel medemense se lewens, dit lei gevaarlik vinnig tot magsmisbruik en die verdrukking van medemense. Terwyl die minderbevoorregtes skynbaar uitsigloos kerm en kla voor die aangesig van God, lewe rykaards in weelde en oordaad, smul hulle na hartelus, en dit terwyl die slagdag, die eindoordeel, alreeds vir hulle aangebreek het! (5:6)

Ons moet dus weet dat aardse rykdom daarom eintlik net in ons hande vertrou kan word, as ons soos God, met sy enigste Seun, Jesus, self bereid is om dit alles op te offer en aan te wend vir die beswil van ons medemens. So nie, staan ons in die gevaar om alles te verloor … hier en tot in ewigheid.

Daarom praat Jakobus so reguit met die eerste gemeentes. Die lewenswyse van Christus se kinders lyk immers anders as dié van hulle wat Hom nie as die Here erken nie. Jesus se volgelinge se lewens moet ’n verskil maak waar dit ons geld en besittings en werkspraktyke aangaan. Hy gee ons en ons medemense in die werksverband aan mekaar se genade oor. Die vraag is uiteindelik of ons hierdie toets slaag.

Tot troos vir die wat gebrek ly aan die hand van hulle medemense, waarsku Jakobus ons dat die rykdom van mense wat baie het en nog meer daarby versamel en wat na hartelus eet, en dit ten koste van hulle medemense, se rykdom sal vergaan en dat die oordeel van die Here uiteindelik ook oor hulle sal kom. Laat ons op dié Woord ag gee, want dit is die evangelie!