BROOD VIR JOU BROER EN SUSTER
In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk
(Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees 1 Johannes 3:16-18
“Hieraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê. Ons behoort ook ons lewens vir ons broers (en susters) af te lê. Wie aardse besittings het en sy broer (of suster) sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie (jou hart vir hom toesluit) – hoe kan die liefde van God in hom (of haar) wees? Liewe kinders, ons liefde moenie net woorde en lippetaal wees nie, maar moet met die daad bewys word.”
Oordenking
Ons dink ten slotte nog ’n maal saam oor geldsake en besittings in die lig van die Bybel. Dit gaan hier oor jou en my verantwoordelikheid om brood te gee vir ons broers en susters. ’n Bybelse woord wat in hierdie verband nog altyd besondere invloed gehad het in die Christelike tradisie, is 1 Johannes 3:16-18. Die apostel Johannes sê dat ons naasteliefde in ons dade gemeet word! Hy rig sy boodskap wel sterk en sekerlik in die eerste plek op Christen-broers en -susters, maar dit spreek tog alle mense ernstig aan. Veral in ons samelewing waar bevoorregtes en minder bevoorregtes so naby mekaar bestaan, maar ons al te dikwels so in eie en dikwels geslote kringe voortleef en werk, by mekaar verby.
Om my lewe vir ’n ander af te lê, sê jy dalk vir jouself, is darem net te erg. Dit maak nie goeie sin nie, wat nog te sê besigheidsin. Hoe kan ek ander help as ek self nie daar is nie, mag jy dalk wonder. En tóg … as ek en jy mooi daaroor nadink, is dit presies hoe God liefhet! Jesus Christus sterf vir jou en my! Die Bybel leer Hy het dit in ons plek gedoen. Sy daad van liefde, sy gee van Homself, het ons vrygemaak voor God! Wat ’n selfopofferende liefdesdaad!
En ons dan? Hoe maak ons teenoor mekaar? Johannes sê, die eintlike toets is óf hierdie liefdesgesindheid van God in ons is, of nie. Daarom, sê hy, moet ons soos Jesus bereid wees om ons lewens vir mekaar af te lê. Ja, ons is deur Jesus se soenoffer vrygemaak van ons skuld teenoor God om op ons beurt ’n oog en hart vol barmhartigheid, vol sorgsaamheid, vol omgee te hê, vir ander, vir hongeriges, vir skuldenaars.
Johannes maak die toets in hierdie verse inderdaad baie eenvoudig, heel prakties, haalbaar, doenbaar! Hy praat oor my en jou gesindheid. En die toets vir jou en my naasteliefde, skryf hy dan, is óf ons ons besittings met medemense wat gebrek ly sal deel, omdat hulle lewenslot ons aan die hart ruk en ons in beroering bring, of nie! Die vraag is of jou en my hart oop, of toegesluit is vir ons broers en susters rondom ons in nood en armoede, werkloos en huisloos … en daarom dikwels ook hooploos.
As Johannes ons oproep tot ’n liefdesgesindheid teenoor dié wat gebrek ly, wys hy eintlik vir ons terug na die hart van God wat vir almal lief is, maar op ’n besondere manier omgee vir die armlastiges, die teneergedruktes, diegene wat gebrek ly, wat baiemaal nie hulleself kan versorg nie, soos die weduwees en wese en werkloses in ons samelewing.
Maarten Luther het by geleentheid oor hierdie woord uit Johannes gesê: “As jy jou brood nie met jou medemens deel nie, pleeg jy letterlik moord.” Presies so ernstig praat God se Woord vandag. Deel jou brood met jou broer en jou suster, nou, vandag, in Suid-Afrika! Dit is die evangelie, juis ook vir ons eie tyd!