(Gebed na aanleiding van Psalm 105:1-6, 16-22, 45B)
Here, wanneer ek by U stil word –
en die geleentheid gebruik om met U te praat,
maak U my bewus van hoe en waar U elke dag
in my doen en late betrokke is.
U herinner my aan my voorgeslagte se storie –
en hoe U omstandighede ombuig,
sodat lewe in die vreemde,
voortbestaan in hongersnood,
die oopbreek van ’n toekoms met U,
vir hulle werklikheid kon word.
As U my daaraan herinner –
dat U konings tereggewys het,
’n boodskapper vooruit gestuur het,
u gesalfdes teen kwaad beskerm het,
en Josef in ’n posisie van gesag geplaas het,
gaan my oë oop vir waar U nou by my teenwoordig is.
U herinner my aan u louterende woord in moeilike tye –
sodat u gesalfdes u vaste voorskrifte nakom,
en by u wette kan hou.
Dankie dat U my herinner –
aan U betrokkenheid by my mense.
Dankie dat U die bewussyn aanwakker –
dat U vandag by my en ons leefwêreld betrokke is.
Daarom kan ek U as Here prys –
u Naam uitroep,
aan almal bekendmaak,
wat U doen en Wie U is.
U Naam is Heilig, Here!
Ek soek U krag en teenwoordigheid elke dag.
U wonders en tekens is my inspirasie.
U oordele is vir my ’n waarskuwing.
Dit is my voorreg –
Om U te dien as nageslag van Abraham,
as u uitverkorene in Christus Jesus.
Here, U is my God!
Amen