(Gebed na aanleiding van Psalm 133)
Here, U wat vir altyd seën en lewe beveel –
U het in Dawid, u kind op pad na die tempel,
’n roering in die hart gegee,
oor die waarde van samehorigheid.
Dankie vir die taal van u Woord –
wat ons bedien met beelde,
om die wonder van verbondheid
te verwoord.
U maak ons bewus van u verlange –
na onderlinge eenheid tussen u kinders;
erkenning en waardering van mekaar,
bemoediging en sorg vir mekaar,
herinnering aan ons eenheid in Christus.
Here, maak ons oop en ontvanklik vir u hart –
wat van vreugde jubel,
as u kinders in harmonie lewe.
Skep by ons die begeerte en verlange, Here van vrede –
om met niks minder tevrede te wees nie,
as om U te gehoorsaam
en op u seën te floreer.
U liefde, Here, wek in ons liefde –
sodat ons mekaar met liefde bedien,
en die wêreld bewus word van ’n alternatief,
wat die selfsug onder mense teenwerk.
Mag die salwende olie van u seën –
en die bevogtigende dou van u liefde,
die kenmerk wees van ons, u kinders,
se lewe in eenheid en gemeenskap,
met U en met mekaar.
Amen