’n Gebed van erkenning vir die Here se sorg

(Gebed na aanleiding van Psalm 124)

 

Here, dankie dat U deur Dawid u dienskneg met ons praat.

Ons leer so baie by hom oor sy intieme verhouding met U,

en hoe hy met U praat oor die lewe saam met U.

 

Dit tref ons, Here, dat Dawid diep nadink –

wanneer hy die pad vat tempel toe,

om U daar te aanbid, saam met geloofsgenote.

 

Hoe nader Dawid aan die aanbiddingspunt kom –

hoe intenser is hy bewus U is by hom,

en U het hom die afgelope tyd,

van baie onheil bewaar …

 

Ja, Here, wanneer ons mense op U fokus –

her-leef ons die lewe vanuit u perspektief;

mense wat ons kwaadgesind is,

natuur elemente wat ons bedreig,

roofagtige magte wat ons met tande wil verskeur.

 

Op pad na U toe, sien ons alles anders, nuut…

 

Dankie, Here, vir geleenthede –

om ons lewensloop in oënskou te neem;

te besef U, Here, is en was inderdaad vir ons…

 

En wat bly nou vir my oor –

na ek besef die Here is vir my?

 

’n Loflied vir die Here!

Ek het die tande van die dier ontvlug.

Ek het uit die vangnet losgekom.

 

My hulp is van die Here –

wat vir my is.

 

Amen