Die evangelie vir alle mense

Uit die Revised Common Lectionary (RCL) vir die komende week (21 tot 25 Augustus 2023)

ROMEINE 10:5-15

Paulus skryf vir die gelowiges in Rome dat Christus met sy koms na die wêreld die wet vervul het, tot regverdiging van elkeen wat glo (vers 4). Eintlik verduidelik die hele Romeine 10:5-13 vers 4. Dit is dus vir ons wat vandag dissipels van Jesus is, belangrik om daarvan kennis te neem. As ons nadink oor God se koninkryk, Christus se heerskappy oor alle dinge en ons roeping om die evangelie in die werksplekke van ons omgewing te verkondig, moet ons Paulus se gedagtes in dié verse ernstig oorweeg.

In vers 4 beklemtoon Paulus die tema van regverdiging van “elkeen wat glo,” en in vers 13 stel hy dieselfde punt in ander woorde, met ʼn belofte: “[E]lkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal verlos word.” Paulus gebruik dan ʼn aantal aanhalings uit die Ou Testament om sy verstaan van geregtigheid te verwoord. Met die aanhalings sê Paulus sy idees is nie nuut nie, maar hy verstaan tog die regverdigmaking deur Christus van “elkeen wat glo,” anders as Israel se idee van regverdigmaking deur die wet. Met behulp van ‘n verskeidenheid tekste argumenteer Paulus dat menslike pogings vir geregtigheid, nooit geloof in Christus kan vervang nie.

Verlossing uit die sonde, kom dus alleen deur die aanroeping van die Naam van die Here (vers 13). Paulus beklemtoon die inhoud van die boodskap wat hy en sy medewerkers verkondig in verse 6 en 7. In vers 8 onderstreep hy dan waarmee hy besig is: “[D]it is die woord van geloof wat ons verkondig.“

Dit is juis dié boodskap wat ek en jy deur God se genade ontvang en geglo het – dieselfde boodskap wat ons na die wêreld van werk moet dra. Die regverdiging deur die geloof wat God in Christus skenk, onderskei nie tussen mense nie. Die fondament is immers dat almal dieselfde Here het en dat Hý sy rykdom uitdeel aan almal wat Hom aanroep (vers 12). Inderdaad, God se regverdigmaking is vir alle mense!

Nou vra Paulus ook vir jou en my die vraag van vers 14: “Hoe kan hulle (die mense in byvoorbeeld die werksplek) Hom dan aanroep, as hulle nie tot geloof in Hom gekom het nie?“ Paulus se tweede vraag kom nog nader aan my en jou persoonlik: “En hoe kan hulle in iemand glo van wie hulle nie gehoor het nie?“ (vers 14b). Paulus hou nie op nie, want hy weet dat God mense gebruik as boodskappers. Daarom vra hy verder in vers 14c: “En hoe kan hulle hoor sonder iemand wat dit verkondig?“

Met hierdie wonderlike boodskap en opdrag en motivering, kan ons nou as gestuurdes uitgaan en met vrymoedigheid getuig van die een Here vir almal. Ons kan maar net saam met Paulus ‘n loflied sing uit dankbaarheid: “Hoe lieflik is die voetstappe van diegene wat die goeie boodskap verkondig!“ (vers 15)