Uit die Revised Common Lectionary (RCL) vir die komende week (28 Augustus tot 1 September 2023)
ROMEINE 11:1-2a, 29-32
Hoofstuk 9-11 vorm die kern van Paulus se brief aan die Romeine. Hier in hoofstuk 11 worstel die apostel steeds met die vraag oor die lot van Israel, die volk waarvan hy deel is. In vers 2a stel Paulus dit onomwonde dat God nié vir Israel sy verbondsvolk verwerp het deur die geleentheid te bied vir elkeen om in die Naam van Jesus Christus regverdiging te ontvang nie. Paulus herinner sy lesers opnuut daaraan dat almal gesondig het en dus voor God sondaars is (vgl. Rom 3:23). Alle mense is in dieselfde bootjie as sondaars, maar ook gelykwaardig as voorwerpe van God se liefde.
Genade is God se geskenk aan almal wat in geloof tot Hom keer. As juridiese term herinner die woord “genade” aan verskoon, vergewe, vrystel, verlos, ’n nuwe begin. Die verrassende van Paulus se boodskap in vers 28-32 is dat die ongehoorsaamheid van die gevalle mensheid, eerder vir God geleentheid bied om nogeens sy oorvloedige genade te betoon aan almal wat hulle tot God wend vir redding. God begin nuut waar mense in doodloopstrate beland.
In die lig van die geleentheidsperspektief op menslike ongehoorsaamheid, belig Paulus se argument in hierdie paar verse ook vir ons die taak wat God aan ons as sy gestuurdes opdra. Ons taak as mense wat diep gedrink het uit die fontein van God se genade, is om die kultuur van ons samelewing te infiltreer met die boodskap van God se radikale genade, deernisvolle liefde en opofferende betrokkenheid. Die menslike neiging tot ongehoorsaamheid aan God as geleentheid om die evangelie van genade te verkondig, moet ons nie negatief stem teenoor mense nie. Ons moet eerder vra of daar ’n Christelike teenwoordigheid in plekke (ruimtes) is, soos die werksplekke van ons streek.
As God nie sy verbondsvolk, die Jode, verwerp het nie, asook nie die menslike familie nie, behoort ons Christen-gemeenskappe ook nie die ruimtes waar ons mense lewe, te verwaarloos nie. “God het almal onder die ongehoorsaamheid ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon” (vers 32). God se onomkeerbare gawes en roeping (vers 29) dring ons om die instellings van ons kultuur en gemeenskap te bly bedien; skole, regering, buurtes en families. Hulle moet bedien word met God se genade.
As God nie die menslike familie verwerp het nie, moet ons wat bely “Jesus is die Here”, betrokke wees by God se infiltrasie van die wêreld waarvoor Christus gesterf en weer opgestaan het. As dissipels van Jesus Christus is ons immers sout vir die aarde (Matt 5:13) en geroep om te bid vir die koms van God se koninkryk (Matt 6:10) in ons gebroke werklikheid. God het almal ingesluit, sodat Hy aan almal ontferming kan betoon (vers 32). Wees deel van hulle wie se voetstappe die goeie boodskap verkondig! (Rom 10:15)