NEGENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD – Jaar A van die Revised Common Lectionary (RCL)
GENESIS 29:15-28
“Waar is God in die verhaal en wat neem Hy waar van ons optrede en motiewe?
Hoe tree ek op wanneer ek dink God kyk nie?.”
Die Ou-Testamentiese verhaal oor Jakob se onderhandelinge met sy oom Laban oor sy begeerte om met Laban se jongste dogter Ragel te trou, speel af binne die konteks van bloedfamilie- en werksverhoudinge. Jakob het uiteindelik, nadat hy sy ouerhuis verlaat het toe hy Esau se eersgeboortereg met ’n bord kos afgepers en Esau se seën met bedrog van sy vader Isak gesteel het, by sy moeder Rebekka se broer Laban in Haran aangekom.
Die gesprek in Genesis 29:15 tussen Laban en Jakob vind plaas nadat Jakob ’n volle maand by Laban tuis was en hy ook vir Laban gewerk het. Daarom voor Laban die gesprek aan oor vergoeding vir die werk wat Jakob doen: “Is dit omdat jy bloedfamilie is dat jy verniet vir my moet werk? Sê vir my wat jou vergoeding moet wees.” Op hierdie punt beskou Laban sy gesprek met Jakob oor vergoeding waarskynlik suiwer vanuit die perspektief van ’n werkooreenkoms. Laban erken Jakob se bydrae tot sy breër huishouding en ekonomiese aktiwiteite. Hy wil billik en regverdig teenoor Jakob wees. Hy wil nie sy dienste misbruik nie. Laban klink na ’n etiese persoon wat sy susterskind respekteer.
Wanneer Jakob sy versoek om vergoeding noem, reageer Laban oppervlakkig beskou heel tevrede en instemmend. Ons sou oordeel dat Jakob ’n vreemde vorm van vergoeding vir werk vra, maar uit Laban se reaksie was dit blykbaar nie ongewoon nie: “Dit is beter dat ek haar vir jou gee as dat ek haar vir ’n ander man gee. Bly by my!” (vers 19) Die ooreenkoms word gesluit. Albei partye is oënskynlik tevrede. Jakob hou by die ooreenkoms en werk die volle sewe jaar om Ragel as vrou te kry volgens die afspraak vir vergoeding. Wanneer Jakob sy vergoeding na die sewe jaar opeis, raak sake egter kompleks.
Jakob ontdek na die eerste huweliksnag die vrou wat Laban vir hom gegee het, is nie Ragel nie, maar die oudste dogter Lea. Hy konfronteer sy oom, nou sy werkgewer en skoonpa, met ’n vraag: “Waarom het u my mislei?” (vers 25) Met Laban se antwoord op die vraag kom ’n volgende faktor ter sprake, naamlik dié van gebruike, of praktyke, of tradisies. Laban herinner Jakob aan die familiepraktyk wat by hulle geld, naamlik dat die jongste dogter nie voor die oudste dogter uitgegee word om te trou nie. Hierdie gebruik herinner aan die bedrog wat Jakob gepleeg het om Esau se eersgeboortereg te bekom. Ons sou sê, boontjie kry sy loontjie en lekker lag vir Jakob wat sy eie medisyne kry.
Daar is egter meer in hierdie verhaal as bloot vergelding en om Jakob in die bek te ruk. Laban was blatant oneerlik en agteraf. Hy het vooraf een ding gesê en slegs die indruk gewek hy stem in tot die ooreenkoms vir vergoeding. Met die doen-slag het hy egter nie daad by die woord gevoeg nie. Jakob se soortgelyke optrede in die verlede, maak nie Laban se optrede reg nie. Laban se sterk argument oor tradisie en gebruike kom ook verdag voor. Is dit maar ’n geval van die doel heilig die middel? Die impak van gebruike en tradisies op mense se lewens, moet verdiskonteer word. Die twee dogters en hul slavinne word deel van die transaksie, met lewenslange effek vir almal, veral vir Lea.
Op etiese vlak bied hierdie verhaal heelwat stof tot nadenke. Ons kan nadink oor hoe ons dikwels selektief keuses uitoefen. Ons kan nadink oor praktyke en gewoontes wat ons handhaaf, maar wat eties verdag is. Ons kan besin oor die toepassing van etiese beginsels in verskillende sfere van ons lewe. Geld dieselfde etiese beginsels binne die gesin as in die werksplek? Maar, ons moet ook dink oor die teologiese aspekte van hierdie verhaal. Waar is God in die verhaal en wat neem Hy waar van ons optrede en motiewe? Hoe tree ek op wanneer ek dink God kyk nie? In vers 31 kom God wel in die prentjie en lees ons dat Hy gesien het wat met Lea gebeur.