TIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD – RCL JAAR A
(Gebed na aanleiding van Psalm 17:1-7, 15)
In desperaatheid roep ek tot U, Here;
tye waarin omstandighede my verstik –
wanneer ek nie weet van waar uitkoms kom nie.
Tye waarin asof vanuit ’n vreemde wêreld,
my binneste opwel in ’n klaagroep.
Dan roep ek tot U –
want u oë onderskei regverdig.
Wanneer die lewe my bedags langs worstelpunte neem,
en die nagte donker leweloosheid bring,
begeer my hart u teenwoordigheid –
u helende verskyning van geregtigheid.
Dankie dat ek by U kan kla en tot U kan bid, Here.
U gee aandag en hoor die kreune uit my hart.
Wanneer mense my ondergang begeer,
en omstandighede die lewensasem uit my suig –
is U die enigste ruimte,
waar ek my hart en gedagtes kan ooplê.
Here, wanneer ek midde-in maalstrome en loutering –
my steeds en altyd weer tot U wend,
is dit omdat ek al voorheen ontvanger was
van u troue liefde.
Ek kan met ’n eerlike gemoed bely, Here –
U is my Verlosser.
By U soek ek skuiling,
in die worstelstryd van die lewe.
Here, U weet alles van my.
U het my getoets.
Mag my voete u paaie bly navolg,
my voetstappe nie in onreg wankel nie.
Beskerm my soos die appel van u oog.
Amen