Paulus se deernis vir sy volksgenote

TIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD – JAAR A VAN RCL

 

ROMEINDE 9:1-5

 Wat sien jy in jou leefwêreld? Inspireer dit wat jy sien jou om God se genade met ander te deel?

Paulus se emosionele woorde in die vyf verse wat ons hier oordink, getuig van iemand wat diep gesien het en diep geroer is. Wat Paulus beleef, laat hom nuut waarneem. Hy ‘sien’ as ’t ware sy ontsaglike droefheid en onophoudelike pyn. Hy sien sy volksgenote deur God se oë. Hy voel God se liefde sy ingewande omkeer. Paulus beleef innerlike pyn as hy in Israel mense sien wat God se genade verwerp.

Wat ‘n mens aangryp in hierdie verse is Paulus se emosie oor sy volksgenote. Sy ontroering herinner aan Matteus 14:14 waar Jesus die groot skare sien wat na Hom toe kom en hulle innig jammer kry. Paulus is in Romeine 9 opnuut onder die indruk van God se liefdestrou teenoor alle mense. In hoofstuk 5-8 het hy oor God se onuitspreeklike genade gereflekteer en eindig daardie afdeling met die woorde dat niks “ons sal kan skei van die liefde van God in Christus Jesus, ons Here” nie (8:39; 2020-vertaling).

Nou, vanuit sy posisie “in Christus” (9:1) is Paulus se oë oop vir die nood van die mensdom, in die besonder Israel, sy volksgenote na die vlees. In hoofstuk 9-11 fokus hy sy gedagtes op die nood van mense, in die besonder Israel, omdat hy God se genade gesien en dit omhels het.

Wanneer Paulus na sy volksgenote kyk, kan hy nie glo dat hulle alles wat God uit genade vir hulle aanbied eenkant toe skuif nie. Hulle is immers Israeliete wat as kinders van God aangeneem is. Uit hulle is Christus as mens gebore. God het met hulle sy verbond gesluit. Hulle het al die genademiddele ontvang om God te ken en te kan dien. Tog kom hierdie bevoorregte mense nie so ver om God van harte aan te neem en te aanbid nie. Dit laat Paulus se gewete teen hom getuig. Hy sou selfs wou bid om in hulle belang vervloek te wees, indien hulle maar net God se genade wou aanvaar.

Paulus se liefde en besorgdheid vir sy volksgenote na die vlees inspireer hom om steeds by God vir hulle in te tree. Hy glo dat God nie sy uitverkorenes verwerp het soos wat hulle met God gedoen het nie. Daarom bly Paulus se hart in beroering oor hulle. Hy kan nie anders as om lofprysend oor God se genade te getuig nie: “Hy wat God bo alles is, lofwaardig vir ewig!”

Dit is die motivering waarmee God ons roep vir die wêreld. Dit is die wonderlike boodskap waarmee ons mense wat verlore is na God toe kan roep. Mag ons harte pyn vir die behoefte van God se mense oral waar God ons stuur en neersit om te groei.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *