Hoor die Woord en doen dit

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk (Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Jakobus 1:19-27

“Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie…”

 

Oordenking

 ’n Predikant het elke Sondag dieselfde preek herhaal. Die leierouderling het uiteindelik met die predikant gaan praat: “U het dieselfde preek vir ses Sondae in ’n ry gepreek. Wanneer maak u weer ’n ander preek?” Die predikant antwoord toe: “Sodra die mense doen wat ek preek.”

Jakobus skryf: “Julle moet doen wat die woord sê …” (1:22) Martin Luther sou hiervan sê: “Die bedoeling van God se Woord is nie om daarin te lees nie, maar om daarvolgens te leef.” Dis ons bron vir lewe en werk.

Dink aan ’n voorbeeld by die werksplek. ’n Kollega gee vir jou opdrag om uit te voer. Jy hou nie daarvan nie, maar dit is wel deel van jou taakbeskrywing. Niemand hou van opdragte nie, maar jy weet dat jy die kollega van jou rug af kan kry as jy sê: “Ja, ek gaan nou.” As die kollega egter later terugkom, lê die lêer nog presies net so. Jy het gehoor wat jou kollega vra, maar nie gedoen wat jy onderneem het nie. Jy het nie jou woorde (onderneming) in dade omgesit nie.

Jakobus skryf dat jy jouself bedrieg as jy só met God se Woord werk. Die Griekse woord vir aanhoor (akroatai), is gebruik om mense te beskryf wat gereeld na voorlesings van belangrike geleerdes geluister het, maar nie werklik hulle dissipels geword het nie, soos werknemers wat “ja” sê, maar “nee” doen.

Jakobus sê ook om die Woord aan te hoor, is soos om in ’n spieël te kyk: “Iemand wat net die woord aanhoor – oppervlakkig, soos om van iemand ontslae te raak – en nooit te doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in die spieël kyk, wegdraai en vergeet hoe hy of sy lyk.”

Om die Woord aan te hoor, maar nooit te doen nie, is verder soos om in ’n dowwe metaalspieëltjie te kyk. Die beeld in die metaalspieël wys nie alles op jou gesig nie, soos gebuigde spieëls by ’n mallemeule. Jou beeld word misvorm. In die een het jy ’n balvormige lyf, in die ander ’n lang nek. Wie slegs die Woord aanhoor, is daarom soos iemand wat na ’n toespraak luister, of ’n werknemer wat ’n kollega van sy rug wil kry. Hulle het wel ’n idee wat God sê, maar voer dit nie uit nie.

Om te verduidelik hoe ernstig en diep ’n mens in God se Woord moet inkyk, gebruik Jakobus die Griekse woord parakuptō. Dit beteken om stip te kyk, omdat die kyker iets belangriks wil raaksien, al is dit moeilik om uit te maak. Dit is soos hittegolwe op ’n warm dag. Wanneer iets op die horison verskyn, lyk dit behoorlik of dit dans. Jy moet konsentreer om die dansende dele aan mekaar te sit, sodat jou brein registreer wat jy eintlik sien. Só, sê Jakobus, moet ons op God se Woord konsentreer, nie net vlugtig daaroor lees om ons gewete te sus nie. Ons moet stip daarna kyk en konsentreer op die boodskap wat God daarin gee, sodat dit ons lewe nuut kan maak.

Jakobus sê die Woord moet gehoor word én in ons harte weerklank vind. Ons mag nie net vir God van ons rug probeer kry nie. Ons moet doen wat God van ons verwag. Edisson Queros (‘n Suid-Amerikaanse evangelis) vertel dat hy vir ’n tyd lank elke Sondag net een sinnetjie gepreek en dan gaan sit het. Sy hele boodskap aan sy gemeente vir baie weke was net dit: “Love one another.” As hy dan gaan sit, was daar ’n geskuifel. Die gemeente was verleë oor hul predikant wat nie meer preek nie. Maar op ’n dag het een man werklik die boodskap gehoor. “Love one another” was bedoel vir hulle daar in die kerkbanke. Hy het na die persoon langs hom gedraai en gesê: “Ek het jou lief.” Die gemeente het uiteindelik begin doen wat hulle vir weke gehoor het.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *