(Gebed na aanleiding van Psalm 139:14-18, in Gebede uit die Woord. CUM)
Ek loof U omdat U my
so besonder wonderlik gemaak het.
U werke is wonderbaar, ek weet dit alte goed!
My bene was vir U sigbaar
toe ek stilletjies gevorm is in die dieptes
van die moederskoot.
U het my gesien voor ek gebore is.
In u boek is alles opgeteken; elke dag is bepaal
voordat een van hulle daar was.
Kosbaar is u gedagtes vir my, o God!
Hoe onmeetlik is die totaal!
As ek dit nou moes tel,
sou hulle meer wees as sandkorrels!
Wanneer ek daarmee klaar is,
sal ek nog steeds by U wees.