In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk (Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)
Lees Genesis 4:1-10
Toe vra die Here vir Kain: “Waar is jou broer Abel?” En Kain antwoord: “Ek weet nie. Moet ek dan my broer oppas?” Maar die Here sê: “Wat het jy gedoen? Die bloed van jou broer roep van die aarde af na My.”
Oordenking
Om vir iemand vir wie jy lief is om te gee, is net so belangrik vir menseverhoudinge as wat sement vir die bou van ’n muur is. Soos sement stene verbind om ’n muur te maak, word mense deur sorgsaamheid tot gemeenskap gesmee. Die Engelse woord “care”, beskryf ons behoefte aan ondersteuning. Omgee behels veral om verantwoordelikheid vir jou naaste te neem, om jouself vir hulle op die spel te plaas. In Genesis 4:9 en 10 roep God vir Kain: “Waar is jou broer?” “Wat het jy gedoen?” God wil weet of Kain omgee. In ons mededingende samelewing dwing dié verhaal ons om na te dink oor ons verhouding met ander mense. Die drang om te presteer, suksesvol te wees, maak ons maklik gevoelloos vir die nood van ander. Op pad na sukses word ons naaste dikwels vertrap.
Kain het nie vir Abel omgegee nie. God het die volste reg gehad om te vra: “Waar is jou broer?” want Kain het ewe vroom die eerste deel van sy oes geoffer. Só het hy erken dat God die oes gee en was hy selfs dankbaar. Juis daarom het God gevra: “Waar is jou broer?” Wie die genade van God se sorg ervaar, behoort ook broers, susters en die naaste te versorg.
Daar is ’n stukkie Kain in ons elkeen. Uiterlik vroom, lees ons Bybel, bid ons, sê ons het Jesus lief. Máár, diep in ons hart wens ons dikwels ons broer of suster weg, selfs dood. As vinnige Gert net nie in ons skool was nie … óf mooi Sannie op ’n ander dorp gewoon het … het ek al die aandag gekry, was ek die vinnigste in die skool. Só dink Kain. Hy kom met sy offers na God toe, maar God vra: “Waar is jou broer?” Kain juig oor die oes, maar God is oor Abel besorg. Ja, Kain móét dankbaar wees, máár God vra verantwoording vir sy broer. Hebreërs 11:4 oordeel dat Kain sonder geloof was, want egte geloof omvat jou hele lewe, ook jou verhouding met broers en susters.
Kain se jaloesie maak hom eintlik teen God opstandig. Hy laat sy gesig sak. Hy wil God nie sien nie. Kain hét met sy broer kontak gemaak, maar met geweld. Hy slaan Abel dood en sê dan vir God dat hy nie sy broers se oppasser is nie, nie vir hom verantwoordelik is nie. Wat ’n patetiese mens! Een sonder sorgsaamheid. Sê jy dalk? “Ek is nie so liefdeloos nie.” Luister na Jesus in Matteus 5: “Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank … As dit jou dus byval dat jou broer iets teen jou het … gaan maak eers vrede met jou broer.” God soek vir Kain op en roep hom tot verantwoording.
In Genesis opnebaar God sy verstommende genade: “Toe gee die Here vir Kain ’n teken sodat niemand wat hom raakloop, hom sou doodmaak nie.” (vers 15) God gee vir Kain ’n merk, ’n teken van genade, van sorg en beskerming. Hy sluit ’n verbond met die moordenaar, neem sy saak op, onderneem om hom te bewaar. Hoe anders is God nie as ons nie!
Maar ook vir ons kan dinge anders wees as wat tussen Kain en Abel gebeur het. Christus het aan die kruis gesterf, omdat God vir ons omgee. Anders as die kreet om wraak uit Abel se bloed, vloei die bloed van Christus as God se vergifnis. Dit bring vrede, ook tussen Kain en Abel. Die kruis maak ons anders, van mekaar bewus. In Christus sien ons God se diep sorgende liefde en ontdek ons wat dit beteken om vir mekaar om te gee én verantwoordelikheid te neem.






