Dien jou naaste met jou goed – God besit alles!

In Woord en Werk. Bybels nagedink in die wêreld van werk (Johan Botha en Eddie Orsmond, 2004)

 

Lees Psalm 24

“Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here.” (vers 1)

 

Oordenking

God se Woord gee riglyne vir ons geldsake en besittings. Die Bybel beklemtoon gewoon dat alles aan God behoort. Hy besit eenvoudig alles!

In die Christelike tradisie het hierdie woorde van Psalm 24:1 altyd groot betekenis gehad. Aan die een kant is dit duidelik ’n waarskuwingswoord aan diegene wat besitters is; dalk van ’n klomp eiendom, ’n besigheid, baie geld, ander waardevolle goed, genoeg om van te lewe. Psalm 24:1 beteken doodeenvoudig net dit: Wat jy ookal mag meen aan jou behoort, behoort regtig nie aan jou nie. Niks daarvan nie. Dus, dink weer ’n keer. Jy het nie die laaste sê oor jou “besittings” nie. Dit is God se eiendom! Hy het daaroor die laaste sê! Hy besluit of jy het of nie, en vir hoe lank, met die oog op sy koninkryk en die armes.

Die eintlike vraag is daarom: Hoe bestuur jy sy eiendom? Vir jou eie beswil? Vir jou eie gerief? Vir jou eie genot, en gemak en voordeel?

“Maar natuurlik,” sê jy, “ek werk hard; ek verdien my brood met ywer; ek het nie ’n lui haar op my kop nie. Inderdaad, ek verdien dit! Gerief, gemak, voordeel, selfs rykdom – dit alles is my reg!”

Moenie glo nie. Ons verdien niks! En as jy iets het, het jy dit slegs om te bestuur, vir die werklike Eienaar en in diens van jou naaste. Niks daarvan is jou reg nie! Inteendeel, voorspoed, gerief, gemak en sekuriteit is ’n absolute voorreg en ’n luukse in ons land, dikwels ten koste van miljoene werklose en arm mense wat onder die broodlyn lewe.

Ons loop voor in die wêreld met die grootste gaping tussen baie ryk en baie arm mense, vertel die statistieke. Dikwels skei hoë mure en leefstyle en lewenshoudings ons van mekaar. Baie vermoëndes onder ons leef en werk buite die gesigsveld van die armes in ons samelewing. Die Woord van die Here vermaan ons duidelik. Wat ek en jy besit, behoort nie aan ons nie, dis God se eiendom, onder ons bestuur geplaas, bedoel tot ondersteuning van ons naaste.

Psalm 24:1 is juis ook ’n trooswoord vir jou wat arm is, wat nie besittings het nie, nie eens ’n spaarrekening of ’n woonplek of ’n eiendom of werk of ’n inkomste of kos nie. Dis ’n trooswoord vir jou wat nie nou die kans en verantwoordelikheid het om eiendom te bestuur nie, om te verdien nie, om te besit nie. Alles behoort immers aan die Here! Daarom kan jy verseker wees God gee in die besonder vir jou om. Hy begeer nie jou en jou geliefdes se swaarkry en kommer nie. Hy sal definitief aan jou reg laat geskied en jou versorg … Ja, selfs uiteindelik ten koste van almal wat selfsugtig en eiegeregtig vir hulleself bymekaarmaak en lewe.

En as die orde omgekeer sou word in jou eie of jou kinders se lewens en jy of julle baie besittings verkry en rykdom bymekaarmaak, onthou dan altyd die Here is die Eienaar daarvan. Hy deel uit soos Hy goed dink en vir wie Hy daarmee vertrou. Leef daarom met genade en barmhartigheid teenoor elkeen wat minder bevoorreg is as jy. Immers, die brood wat jy het, ontvang jy altyd en dit bly daarom genadebrood, ook om weer uit te deel vir hulle wat nie het nie. Dit is die evangelie!