Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Dertiende Week van Koninkrykstyd: Vrydag 1 September 2023
ROMEINE 12:1-8
Nadat Paulus sy vertroue in God verklaar en sy lof vir die Here se onweerstaanbare genade in Romeine 11:32-36 besing het, vestig hy vanaf Romeine 12:1 sy aandag op hoe God se wil betrekking het op die Christen-geloofsgemeenskap in Rome.
Hoe gelowiges in hul daaglikse omstandighede God se wil uitleef, is ook belangrik vir ons lewe vandag. Ons bely immers dat Christus die Here is. Ons het ons verbind om sy volgelinge en getuies te wees, onder andere in die wêreld van werk.
Wat Paulus destyds vir die gelowiges in Rome geskryf het oor geloof en lewe, geld vir elkeen wat Jesus volg op die weg van God se koninkryk. Elkeen wat instemmend reageer op die Here se roepstem tot navolging, betree die weg van geloofsvorming en voortgaande toerusting. Die doel is om God saam met mede-gelowiges te dien, deur die evangelie van Jesus Christus geloofsgetrou uit te dra. Navolging, diens en getuienis vra geloofskennis, -praktyke en bedieningsvaardighede. Dit versterk Jesus se dissiples in die uitbreiding van God se koninkryk. In Romeine 12:1-8 deel Paulus sy insigte oor godsdiens (vers 1-2), nederigheid (vers 3-5) en diensbaarheid deur die Here se gawes (vers 6-8).
Paulus doen ’n ernstige beroep op die gelowiges in Rome, om hulself volledig in God se diens te stel. Hy gebruik taal en beelde uit die godsdienstige agtergrond van die Jode, met sy offerpraktyke. Die meervoudsvorm van naamwoorde en werkwoorde wat Paulus gebruik, beklemtoon volgens geleerdes die gemeenskapskarakter van die godsdienspraktyke wat Paulus voordra. Nie self-gesentreerd nie, maar diens aan God in gemeenskap. Die ‘sinvolle godsdiens’ (2020-vertaling), of ‘wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen’ (1983 AV), is vir Paulus indienstelling van die volle mens in gemeenskap na God se maatstaf. Dus, volgens God se wil en nie volgens menslike geneigdhede nie.
Kenmerkend van die ‘sinvolle godsdiens’ is ’n lewende oorgawe aan God se wil, in onderskeiding van God-onterende wêreldse praktyke. Geloofsonderskeiding is ’n integrale element van ons lewe in gemeenskap voor God en die wêreld. Dit behels nuwe denke én lewende offervaardigheid. Dit rig ons op die goeie, aanneemlike en volmaakte wil van God. Die proses van geloofsonderskeiding stel ons in staat om die kernboodskap van God se wil vir die wêreld te hoor, met die wêreld te deel en om as geloofsgemeenskappe anders te leef, sodat die wêreld vir God ook in ons lewe kan sien.
Paulus raak in vers 3-5 prakties oor hoe die volmaakte wil van God in ons lewe uitspeel. Wees nederig, skryf Paulus. Moenie meer van jouself dink as wat jy moet nie. Wees beskeie volgens die maat van die geloof wat God aan jou skenk. Wees wys ooreenkomstig die inhoud van die geloof wat God in jou bewerk. In vers 4 beklemtoon Paulus die eenheid van die geloofsgemeenskap in Christus. Jy is nie ’n eiland nie en leef ook nie op ’n eiland nie. Jy is deel van ’n eenheid wat hier met die beeld van ’n liggaam beskryf word. Elke lid het ’n funksie en dra by tot die welsyn van die geheel.
In vers 6-8 beskryf Paulus dan hoe God elkeen toerus om ’n bydrae binne die geheel te maak, sodat God se wil in die wêreld sigbaar word. God skenk aan elkeen gawes wat van persoon tot persoon verskil. Dit is gawes van genade deur God aan ons tot sy eer. Aan die gelowiges in Rome beklemtoon Paulus gawes wat in daardie konteks belangrik was vir die uitbreiding van God se koninkryk. Hy noem die gawes van profesie, van diens, van onderrig, van bemoediging, van mededeelsaamheid, van leiding gee en van barmhartigheid. Elkeen van dié gawes kom uit God se barmhartigheid en moet in sy diens gestel word.
Wat is jou gawe en hoe stel jy dit beskikbaar as lewende offer aan God?