GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 4 SEPTEMBER 2023
RCL JAAR A – VEERTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
’n Gebed oor God wat roep en verseker
(Gebed na aanleiding van Psalm 105:1-6, 23-26 as reaksie op Eksodus 3:1-15)
Here, hoe goed is dit –
om u teenwoordigheid op te soek?
Die wonders wat U gedoen het te onthou,
tekens wat U gegee het op te roep,
oordele van u mond met mekaar te deel.
Ons het meermale behoefte aan u krag –
en word versterk deur verhale van u trou.
U het die kinders van Jakob, u uitverkorenes,
gehoor, raakgesien en vrygemaak.
Wanneer gesindhede van mense met mag ons ontsenu –
gee u verhaal met Israel in Egipte ons krag,
gee u ontfermende geregtigheid nou hoop.
Toe nuwe heersers in Egipte –
haat teen u diensknegte aanstook,
het u individue gaan haal en gestuur,
om vir U te werk onder u uitverkorenes.
Die name van Moses en Aāron, Here –
vertel hoe U mense soos ons,
in werklike historiese omstandighede,
uit hul eenvoudige bestaan gaan haal,
om vir U ’n menslik oorweldigende taak te verrig.
Dankie vir u verhaal met Moses in Eksodus 3.
U wat na hom uitreik in die woestyn –
hy bewus raak van heilige grond voor U,
en U sy besware ondervang.
Here, U belofte om saam met Moses te gaan –
die voorsiening van ’n ondersteunende broer,
as sy spraak hom in die steek sou laat,
gee ons insig in hoe U is en met ons handel.
Here, ons staan voor U, die Heilige; “Ek is Wie Ek is”.
Ons tyd vra ons gehoorsaamheid, as u uitverkorenes.
U roep ons vandag, soos vir Moses en Aāron.
Dankie vir die versekering –
“Ek is immers by julle.”
Ons hou aan u belofte vas, Here.
Amen