Jul ongeveinsde liefde

Uit die Revised Common Lectionary (RCL)

Veertiende Week van Koninkrykstyd: Vrydag 8 September 2023

 

 ROMEINE 12:9-21

In Romeine 12:1 het Paulus die tema van ‘sinvolle godsdiens’ (2020-vertaling), of die ‘wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen’ (1983 AV), onder gelowiges in Rome se aandag gebring. Kenmerkend van die ‘sinvolle godsdiens’ is ’n lewende oorgawe aan God se wil, in onderskeiding van God-onterende wêreldse praktyke. Geloofsonderskeiding is ’n integrale element van ons lewe in gemeenskap voor God en die wêreld. Dit behels nuwe denke én lewende offervaardigheid.

In Romeine 12:9-21 brei Paulus uit op die nuwe denke en lewende offervaardigheid. Sy modus van onderrig en lering het selfs die vorm van kategesemateriaal. Vers 9 stel die tema bekend: “Julle liefde moet ongeveins wees.” (2020-vertaling). New King James Version vertaal: “Let love be without hypocrisy.” Nog ’n Engelse vertaling is: “Live a life of genuine love.” Verse 9 en 21 is in werklikheid ’n samevatting van alle stellings wat Paulus tussenin maak. Volgens een kommentator vorm vers 9-21 een omvattende gedagte. Ons kan as’t ware op enige punt begin en eindig, of dit omgekeerd ook lees. Paulus se punt is eenvoudig: Wees opreg in julle liefde en oorwin die kwaad deur die goeie.

Die opskrif van die 2020-vertaling by vers 9-21 is: “Rigtingwysers vir gelowiges.” Dit gaan vir Paulus oor gedrag en lewenstyl wat pas by die belydenis dat Jesus die Here van die gelowige se lewe is. Daarmee maak Paulus sy lesers bewus dat hulle verhoudinge, beide met mekaar (onderling) en met ander mense (na buite), sigbaar ‘n uitdrukking is van hul ‘sinvolle godsdiens’. Gelowiges word deur ander raakgesien. Hulle ongeveinsde liefde binne die geloofsgemeenskap teenoor mekaar, asook na buite teenoor ander mense, is openbare getuienis van hul ware liefde vir God. Vanuit dié perspektief is alles wat Paulus hier skryf elemente van die een vrug van die geloof (vgl. Gal 5:22).

In vers 9-10 fokus Paulus op gelowige wat God dien se persoonlike heiligheid. Dit behels innerlike afsku van kwaad en vashou aan die goeie. Teenoor medegelowiges moet innige broeder-/susterliefde die verhoudings bepaal, gelowiges mekaar respekteer en aan mekaar eerbied betoon. In vers 11 spoor Paulus gelowiges aan met betrekking tot diens aan God. Daarin moet hulle nie in toegewyding traag wees nie, maar die Here in volgehoue geesdrif bly dien. Gelowiges moet ’n groeiende vlak van geestelike toewyding en geesdrif vir die bediening onderhou. Vers 12 noem praktyke wat sodanige groei moontlik maak, naamlik: blydskap in hoop, standvastigheid in swaarky en volhardende gebed.

In vers 12-21 fokus Paulus op gelowiges se optrede teenoor ander mense. In vers 12, die behoeftes van ander heiliges en die praktyk van gasvryheid. In vers 13 roep Paulus op tot radikale gedrag teenoor vervolgers; seën hulle en moet hulle nie vervloek nie. Vers 15 roep op tot pastorale meelewing. Vers 16 beklemtoon onderlinge eensgesindheid en nederigheid; vermy hoogmoed en eiesinnigheid. Vers 17-21 praat oor kwaad en vergelding, teenoor ’n lewe in vrede met alle mense. Die wete dat God finaal oordeel oor mense, maak ons vry om barmhartig teenoor ander te wees.

In vers 20 beklemtoon Paulus die radikaliteit van ongeveinsde liefde. Hy wys op die uitdrukking daarvan in liefdesdade teenoor vyande. Sulke liefdesdade kan die vyand tot bekering lei. Paulus is oortuig daarvan dat God volledig betrokke is by die mens se lewe. Wanneer ons dinge aan God oorgee, laat God die goeie gebeur. Ons kan vry leef in ware liefde, want God is die Bron van ongeveinsde liefde.