Aanvaar ander sonder oordeel

Uit die Revised Common Lectionary (RCL)

Sestiende Week van Koninkrykstyd: Vrydag 22 September 2023

 ROMEINE 14:1-12

Ons reflekteer oor toerusting vir dissipelskap na aanleiding van Paulus se brief aan die gelowiges in Rome. Ons hoor hoe Paulus die gelowiges onderrig oor ‘sinvolle godsdiens’ (Rom 12:1, 2020-vertaling), of die ‘wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen’ (1983 AV). Romeine 12 en 13 stel ons in kennis van Paulus se onderrig oor liefde as wesenlike aspek van gelowiges se sinvolle godsdiens. Ongeveinsde liefde (12:9-21) stel ons in staat om die kwaad te oorwin met die goeie. Liefde vir die medemens is ’n verpligting vir gelowiges (13:8) en waarborg dat kwaad afgeweer word.

Paulus se riglyne vir en onderrig oor sinvolle godsdiens, is bedoel om die gelowiges in Rome te adviseer oor wat dit behels om ‘Liggaam van Christus’ te wees. Hy spoor die Christus-volgelinge in Rome aan om geloofsgetroue getuienis van Jesus Christus te wees binne hul leefwêreld, sodat nie-gelowiges bewus word van ’n alternatiewe leefwyse. Paulus se onderrig oor ongeveinsde liefde vir die medemens as beliggaming van sinvolle godsdiens is inderdaad vir Jesus se volgelinge vandag belangrik.

In Romeine 14:1 kondig Paulus nog ’n tema aan wat deurslaggewend is vir Jesus se dissipels. Paulus hanteer die kwessie van onderlinge verdeeldheid en verskil in oortuiging tussen gelowiges in die geloofsgemeenskap. Hierdie is ’n sensitiewe kwessie vir gelowiges en rig ’n wesenlike uitdaging aan Jesus se volgelinge. Paulus roep die gelowiges in Rome op tot ‘aanvaarding’ van diegene – broers en susters in Christus – wat swakker is in die geloof. Hy vra ook dat hulle nie oor verskille moet argumenteer nie (2020-vertaling).

Die liefde vir mekaar waaroor Paulus in Romeine 13 geskryf het, word nou konkreet toegepas op verskille in geloofspraktyke onder Jesus se volgelinge. Hoe belangrik is dit nie vandag met diverse bedieningspraktyke in talryke denominasies nie. Geloofsonderskeiding moet tot aanvaarding van die ander lei, aangesien God ook die persoon aanvaar het wat ander opvattings huldig en praktyke beoefen. Die saak waaroor Paulus hier skryf, rig groot uitdagings aan die kerk as ‘Liggaam van Christus’ in die wêreld. Paulus ontken nie dat daar inderdaad verskille binne geloofsgemeenskappe voorkom nie. Hy beklemtoon wel dat liefde vir mekaar uitdrukking vind in aanvaarding van verskille.

Waar verskille in geloofspraktyke tussen gelowiges voorkom, vra die ‘sinvolle godsdiens’ om in ongeveinsde liefde geloofsonderskeidend te erken dat God elkeen aanvaar vir wie Christus gesterf het. Daarom verplig die liefde lede van Christus se liggaam om mekaar te aanvaar, nie op die ander neer te sien nie en nie iemand wat aan die Here behoort, te veroordeel nie. Die waarheid is immers dat ons elkeen uiteindelik voor God verantwoording moet doen.

Die getuienis en voorbeeld waartoe Paulus ook vir ons as gestuurdes van die evangelie van Christus vandag oproep, is om nie vir mekaar struikelblokke in die weg te lê nie. Ons moet eerder sorg dra vir mekaar se lewe voor God. Laat ons mekaar aanmoedig tot ’n lewenstyl waar verskille in liefde hanteer word, sodat die lede van die ‘Liggaam van Christus’ in ’n gees van vrede en harmonie saam lewe. Dit is ’n getuienis wat die wêreld in God laat glo.