God se belofte is ons erfenis

(Gebed na aanleiding van Psalm 105:1-6, 37-45, saam met Eksodus 16:2-5)

Here, U is God van Suid-Afrika en al haar mense.
Ons vier Erfenisdag op 25 September:
herinner mekaar, U is hier!

Here, u mense onderneem in dié dae pelgrimstappe –
as erkenning van ons gedeelde erfenis.
Ons her-besoek ons wortels van oorsprong,
en eer die simbole van u troue sorg.

Dankie vir die psalm wat ons voorgaan, Here.
Dit leer ons hoe mense maak wat dankbaar is.
Dankbares onthou God se bakens en mylpale,
van lewegewende oomblikke en gebeure.

Die psalmis neem die Godsvolk op ’n pelgrimsreis –
om hul wegtrek uit die slawehuis te onthou.
God het toe met hulle nuut begin.

Die verhaal van ’n nuwe bedeling in Suid-Afrika, Here –
nooi ons om saam met ou landgenote,
ons gedeelde identiteit na te loop.

Here, die psalmis herinner die Godsvolk van destyds –
aan u sorgende teenwoordigheid:
’n wolk as bedekking bedags,
en vuur om die nag te verlig.

Toe honger u volk opstandig laat word –
leer U hulle u ekonomie van genoeg:
kwartels en brood uit die hemel,
genoeg vir elke dag.

Israel se pelgrimstap draai ook by ’n rots.
U breek dit oop vir dorstige woestynwandelaars.
U laat water vloei uit klip om hul dors te les.

Dankie vir die bakens van Israel se erfenis, Here.
Dit gee ons leiding vir stopplekke,
langs óns Erfenispad.

Here, ons stap die nuwe Erfenisroetes met dankbare harte –
want U het u heilige belofte aan Abraham onthou.
U wat nie vergeet nie, is ook by ons!

Amen