Die gesindheid van jou hart

Uit die Revised Common Lectionary (RCL)

Sewentiende Week van Koninkrykstyd: Vrydag 29 September 2023

 

 JONA 3:5-4:11

Ons nadenke oor toerusting vir dissipelskap neem ons in hierdie meditasie na die Ou Testament vir besinning oor wat dit behels as God ons roep vir ’n opdrag in sy diens. Die bekende verhaal van die onwillige profeet Jona is ’n besondere gevallestudie vir self-ondersoek en beoordeling. Die verhaal daag ‘n mens uit om jou gesindheid waarmee jy as gestuurde van die Here jou roeping en opdrag uitvoer, eerlik te ondersoek wanneer jy die evangelie van Jesus Christus met die wêreld deel.

Aan die einde van die verhaal van Jona se roeping as profeet na Ninevé, besluit God om sy straf vir die mense van die stad Nineve te herroep. God besluit om die ramp wat Hy oor hulle sou bring, terug te trek (3:10). Dit gebeur nadat die Here ’n tweede keer vir Jona geroep het om ’n boodskap aan Ninevé te bring. Jona was onwillig om God se eerste opdrag uit te voer en het na Tarsis gevlug (1:3). In die eerste deel van die verhaal fnuik die Here Jona se pogings om sy roeping te ontduik. In die tweede deel lewer Jona die Here se boodskap af, maar sonder begrip van wat in God se hart  vir mense lewe.

’n Vraag wat Jona se optrede oproep, is dié na die gesindheid waarmee ’n gestuurde van die Here die boodskap van God met ander mense deel. Uit Jona se optrede blyk dit dat ’n gestuurde God se opdrag tot die letter van die wet kan uitvoer, sonder deernis vir die ontvangers van die boodskap, of enige verwagting dat God se genade ’n alternatiewe uitkoms kan bewerk. Jona was erg ontsteld toe hy verneem dat God nie sy voorgenome ramp oor Nineve uitgevoer het nie. Hy het kwaad geword (4:1).

Jona se optrede en dialoog met God dui nie alleen op sy onwilligheid om God se roeping te gehoorsaam en uit te voer nie. Dit blyk ook dat hy onbarmhartig was en geen liefde in sy hart gekoester het vir mense soos dié van Ninevé wat nie die verskil tussen regs en links ken nie. Jona was in sy onwillige opstandigheid nog bereid om God se oordeel aan te kondig, maar nie om dit wat hy van God geweet het met sy ‘slagoffers’ te deel nie, naamlik: “dat U ’n genadige en barmhartige God is, geduldig en oorvloedig in troue liefde, ’n God wat berou het oor die onheil” (4:2).

Met watter gesindheid en verwagting leef jy teenoor mense wat nie die geloofskennis het om te onderskei tussen goed en kwaad nie? Wat hoop jy gebeur met mense aan wie jy die evangelie van Jesus Christus ook in die werksplek verkondig? Die Here daag ons uit, soos vir Jona, om ons selfsugtige besorgdheid te erken (4:10). Hy herinner ons ook, soos vir Jona, aan sy barmhartigheid en troue liefde (4:2) wat sigbaar is in sy besorgdheid oor mens en dier (4:11). Ons word geroep om God se berou oor onheil (4:2) en sy jammerhartigheid oor sy besluite (3:10), in ons harte te dra. Wees gewillig om te gaan as die Here jou stuur. Open jou hart sodat God se troue liefde vir mens en dier deur jou spoel.