RCL JAAR A – AGTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 78:1-4, 12-16, saam met Eksodus 17:1-7)
Here, God van elke generasie gelowiges –
U lê ’n verantwoordelikheid op ons wat U dien.
Ons moet opvolgende geslagte bekend stel aan U.
U het ons voorouers as u eiendom verkies.
Die Psalm wil ons op die geloofspad onderrig –
roep leerkragte van geslagte op om te luister.
Die woorde oor God se roemryke dade,
kom leweskeppend na ons: getuig van u trou.
Here, u onderrig ons in vele vorme:
spreuke met kernwaarhede oor U.
Raaisels oor u optrede in die verlede,
daag ons uit om dieper te vra.
Here, die onderrig oor ons geloofsopdrag –
beklemtoon ons verpligting aan die nageslag:
mededelings van wat ons gehoor het en weet,
openbaarmaking van voorouers se vertellings.
Dankie Here, vir die rykdom waaruit ons kan put –
oorvloedige bronne te ontgin;
vir geloofsvorming en geloofsgroei
van elke geslag.
Here, maak ons geslag getrou –
om u geloofsopdrag toe te eien,
die taak met erns op te neem,
die volgende geslag te vertel:
Julle behoort aan God.
Here, ons glo die getuienis van u mag –
en die wonders wat U gedoen het.
Ons aanvaar die opdrag.
Ons sal ons kinders voorgaan,
en U getrou aanbid.
Amen