Die betroubaarheid van jou woord

Uit die Revised Common Lectionary (RCL)

Agtiende Week van Koninkrykstyd: Vrydag 6 Oktober 2023

 

MATTEUS 21:23-32

Vir ons nadenke oor dissipelskap staan ons hierdie week stil by die Revised Common Lectionary se evangelielesing uit Matteus 21. Jesus het Jerusalem binnegegaan op die rug van ’n donkie, terwyl die skare Hom as die profeet Jesus van Nasaret, in Galilea, geïdentifiseer het (vers 10). In ons Skrifgedeelte bevind Jesus Hom op die tempelterrein waar Hy besig was om onderrig te gee. Hier konfronteer die leierpriesters en familiehoofde vir Jesus oor sy optrede van vroeër, toe Hy die tafels van die handelaars omgegooi het (vers 12-13). Hulle het Jesus uitgedaag oor die gesag vir sy optrede: “Op watter gesag doen jy hierdie dinge? En wie het aan jou hierdie gesag gegee?” (2020-vertaling).

Nadat Jesus die geestelike leiers met ’n teenvraag ontwapen het en hulle Hom nie wou antwoord nie, het Jesus ’n gelykenis vertel oor ’n man wat twee seuns gehad het. Die gelykenis stel die tema van gesag en mense se reaksie op ’n gesagvolle woord aan die orde. Die gelykenis oor ’n man wat sy seuns versoek om in sy wingerd te gaan werk, is bedoel om die geestelike leiers in Jerusalem se miskenning van Jesus se gesag te ontmasker. Omdat hulle soos die tweede seun nie op die gesagvolle woord van Jesus reageer nie, het hulle die geleentheid om die koninkryk van God in te gaan, verbeur.

Die ironie van die interaksie tussen Jesus en die Jerusalemse geestelike leiers is dat die leiers inderdaad geweet het wat die korrekte antwoord is op Jesus se vraag in vers 31 oor die wil van die twee seuns se vader. Hulle kon egter nie die toepassing daarvan deurtrek na Jesus se gesagsposisie in hulle midde nie. Hulle kon nie die motivering opwek om te doen wat Jesus in hulle midde as gesagvol oor die wil van die Vader aan hulle meegedeel het nie. Hulle het nie Johannes se pad van geregtigheid aanvaar nie en ook nie berou gekry toe Jesus God se gesag tussen hulle gedemonstreer het nie.

Vir dissipels van Jesus is dit deurslaggewend om die gesagvolle stem van Jesus te herken, soos wat dit na ons toe kom as Woord van God. Dissipels van Jesus kan egter nie vashaak by die hoor en herkenning van die gesagvolle stem van ons Here nie. Ons moet ook reageer daarop as bewys dat ons Jesus se gesag erken en ons daaraan onderwerp. As Jesus ons na sy wingerd stuur met die opdrag om sy wil aan die wêreld bekend te stel, is die toets uiteindelik of ons in gehoorsaamheid gaan om dit te doen.

Op ’n tweede vlak maak die gelykenis ons ook bewus van ons karakter en etiese optrede in navolging van Jesus. Die reaksie van die twee seuns konfronteer ons ook met die geloofwaardigheid van ons eie uitsprake en beloftes aan ander.

Kan ander mense my woord vertrou, of is my ja dikwels eerder ’n nee en onbetroubaar? Mag die gesag van Jesus ons betroubare getuies in sy wingerd maak.

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *