Tydens Arbeidsbediening Oudsthoorn se onlangse drie-maandelikse bestuursvergadering in September, het hul PAK (plaaslike aksiekomitee) -bestuurder, André van Staden, soos gewoonlik ‘n interessante gasspreker vir die geleentheid genooi.
Vanjaar was dit weer eens iemand besonders. “Dit maak die vergadering, wat dikwels maar net as ‘n plig beskou kan word, baie interessanter en motiveer ook al die geestelike werkers teenwoordig,” verduidelik André.
Ons wou by André meer uitvind oor die onderwerp en hoe dit tydens die vergadering met die werk van Areidsbediening verbind is.
“Tydens vanjaar se vergadering het ek my vriend, Francois Stassen, genooi om oor vingerafdrukke te kom praat en dit in Bybelse verband te bring. Francois was voor sy aftrede verbonde aan die forensiese afdeling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens en het jarelange ervaring in hierdie veld.
“Francois het dit meesterlik aangebied. Hy het begin deur te verduidelik dat ons vingerafdrukke nie net deel van ons identifisering uitmaak nie, maar dat ons karakter en persoonlikheid indirek in ons vingerafdrukke gesien kan word. Hoe is dit moontlik? Alles waaraan ons raak; alles wat ons hanteer, dra die merk van ons hande en vingers.
“Deskundiges werk veral in drie areas – die handpalms, die vingerpunte en die duime. Misdadigers het al hul tone probeer gebruik, maar dit kan gou van vingerafdrukke onderskei word.”
“Vingerafdrukke verswak ook mettertyd soos ons ouer word as gevolg van jarelange slytasie. In die geval van mense wat harde, fisiese werk doen en met byvoorbeeld sement, klippe en growwe teksture werk, vind hierdie proses natuurlik heelwat vinniger plaas.
“Francois het ook genoem dat die moontlikheid dat daar duplikate van afskrifte van vingerafdrukke kan voorkom, baie klein is. In die afgelope jare wat dit gebruik word, het dit nog nooit gebeur nie. Selfs tweelinge s’n verskil.
Vir interessantheidshalwe: in China is dit waarskynlik al in 300 VC gebruik en in Japan so vroeg as 702. In die VSA is dit sedert 1902 gebruik.

So, wat sê dit vir ons oor God?
“Niemand kan dit naboots nie; dit verkondig God se meestersplan en dit bevestig hoe uniek elke mens is.
“Dit laat ons ook met eerbied nadink aan Christus se hande, sy vingers en sy handpalms. Hoeveel mense het Hy nie aangeraak en genees nie? Hoeveel mense het hy nie geseën nie?
“Maar dit laat ons ook versigtiger vat aan alles wat ons hanteer.”
Kontak
Vir meer inligting hieroor kan André van Staden gekontak word by wes1@telkomsa.net