GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 2 OKTOBER 2023
RCL JAAR A – NEGENTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 19:8-15, saam met Eksodus 20:1-4, 7-9, 12-20)
Here, die psalmis lê u riglyne vir lewe in ons midde.
Fyntastende voorstellings,
wat diep vibreer.
U riglyne vir ‘n God-gerigte lewe –
heet wet, bepalings, opdrag, gebod.
Tog wurg dit nie die asem
uit ons wese nie.
Die psalmis ervaar u voorskrifte eerder
ruimteskeppend en lewegewend, Here.
Dié bidder omhels u volmaakte raamwerk,
met hernude lewenskrag.
Wanneer die psalmis u lewensriglyn
inspirerend in ons midde plaas,
lê dit ons gebrek aan ontsag vir U bloot.
Hier staan ons ootmoedig voor u geregtigheid.
Die heerlikheid wat u wet weerspieël –
ontmasker ons stompsinnigheid.
U is betroubaar en wys.
U begeleiding is suiwer en helderskoon.
Here, ons pleit om u genade.
Gee ons insig en ontsag vir u heerlikheid.
Dan kan ons hart opreg na U verlang.
U is rein, standhoudend, waarheid en regverdig.
Here, maak my/ons nederig voor u aangesig.
Skep ’n fyn aanvoeling vir dwalings diep in ons binneste.
Maak my/ons bewus van troetelsondes in wegkruipplekkies.
Ek/ons wil vry wees en die fyngoud van u wet ontgin.
Here, ontvang dié woorde uit ’n opregte hart.
Ek/ons begeer u heuningsoet beloning.
Amen






