Dra Koninkryksvrugte

Negentiende week van Koninkrykstyd: Vrydag 13 Oktober 2023

Lees MATTEUS 21:33-46

Ons reflekteer verder oor dissipelskap vanuit die Revised Common Lectionary (Jaar A) se evangelielesing oor Matteus 21.

Jesus bevind Hom in konfrontasie met die leierpriesters en familiehoofde oor sy optrede van vroeër toe Hy die tafels van die handelaars omgegooi het (vers 12-13). Hulle daag Jesus uit oor die gesag vir sy optrede. Nadat Jesus die geestelike leiers met ’n teenvraag ontwapen het (vers 25), het Jesus twee gelykenisse vertel en hul onderliggende gesindheid en motiewe ontmasker.

Jesus se antwoord aan die Jerusalem-leiers het drie onderdele. Eerstens, ’n teenvraag (vers 24-27): “Die doop van Johannes, waar het dit vandaan gekom?” Dan, ’n gelykenis van ’n man wat sy twee seuns vra om in sy wingerd te werk, oor die Joodse leiers se gebrek aan berou (vers 28-32). Laastens, ’n gelykenis oor huur-landbouers wat die eienaar se seun doodmaak, wat die leiers se bose planne aan die kaak stel (vers 33-46). Ons Skrifdeel handel oor die geestelike leiers wat Jesus gevange wil neem nadat hulle besef het die twee gelykenisse gaan oor hulle geestelike bankrotskap.

Nadat Jesus die gelykenis van die huur-landbouers vertel het, vra Hy in vers 40: “Wat sal die eienaar van die wingerd met die boere doen as hy van sy reis af terugkom?” Op dié vraag antwoord die priester- en familiehoofde beslis: “Die grondeienaar sal […] die wingerd van hulle afneem en dit aan ander boere verhuur wat aan hom die oes op die regte tyd sal lewer.” In vers 42 haal Jesus uit Psalm 118:22-23 aan en verwys na Homself as die erfgenaam wat gestuur en verwerp is. Jesus se punt met die gelykenis is dat die koninkryk van God van die Jerusalem-leiers (huur-landbouers) weggeneem word. God sal die koninkryk aan ’n nasie gee wat die vrugte van die koninkryk lewer.

Oorweeg die volgende gedagtes vir besinning oor dissipelskap: (i) Die uitbreiding van God se koninkryk en; (ii) Die dra van koninkryksvrugte. Jesus oordeel dat die koninkryk van God van die geestelike leiers weggeneem en aan ’n ander volk gegee sal word, wat vrugte van die koninkryk sal dra. Met verwysing na Daniël 2:34-35, 44-45 (Matt 21:44) verklaar Jesus dat God sy koninkryk wat die Jerusalem-leiers beskou het as hul alleenbesit, nou uitbrei na ’n volk buite Israel, wat Jesus se gesag erken en aanvaar.

Die Jerusalem-leiers het nie vrugte van God se koninkryk gedra nie. God soek nou vrug by ’n uitgebreide groep huurboere en brei die rentmeesterskap van sy wingerd (koninkryk) uit om ook heidene buite die raamwerk van die Joodse huurboere in te sluit. Jesus, die Steen wat deur die bouers (huur-landbouers) afgekeur is, het van God gekom. Hy het die belangrikste Steen in die bouwerk van die uitgebreide koninkryk geword, wat God met insluiting van die heidene, begin bou het.

Dit is dieselfde wingerd (koninkryk) van God, maar nuwe huurboere, wat op gesag van Jesus God se oorspronklike doel sal verwesenlik; om koninkryksvrugte te dra. Die vraag is of dié gelykenis van Jesus vir jou as dissipel God se gesag dra. Jesus se dissipels is die uitgebreide huurboere vir wie God oproep om sy wingerd te bewerk. Die gelykenis stuur Jesus se dissipels na God se uitgebreide wingerd met die opdrag om koninkryksvrugte te dra. Die dra van koninkryksvrugte is nie ’n eenmalige saak nie. Vrugdra is kenmerkend van dissipelskap, langdurig van aard en gereeld.