RCL JAAR A – TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 106:1-6, 19-23, saam met Eksodus 32:1-14)
Here, wanneer die psalmis ons generasie oproep om U te prys –
herinner die digter ons beide aan u ewigdurende liefdestrou,
asook aan ons onwaardigheid.
Ons kan nie u lof verkondig,
of oor u magtige dade praat nie,
want ons dwaal af, handel goddeloos
en sondig soos ons voorouers.
Maar u ewigdurende verbondstrou, Here –
leer ons van reg en geregtigheid;
die salige weg wat na ’n plek lei,
waar ons tot U mag bid.
Binne die ruimte van u omhelsing beleef ek u verbondstrou, Here.
Daar kan ek pleit dat U aan my sal dink.
Daar, naby aan U, herken ek my eie ontrou,
soos dié van ons voorouers.
Here, in die aanbiddingsruimte van u omhelsing –
roer die begeerte diep in my,
om te bid dat u na my sal omsien,
tydens u verlossing.
Maar in dieselfde ruimte en oomblik van omhelsing –
maak u my/ons bewus van ’n onbegryplike geneigdheid,
om soos die woestyn generasie
u troue liefde te verruil vir ander gode.
Soos Israel in Eksodus 32 vers 1, roep ons ook uit:
“Komaan, maak vir ons gode
wat voor ons uit kan gaan.
Ja, saam met ons voorouers, het ons gesondig.”
Maar U, Here, Verbondsgod –
het geluister na Moses, u uitverkorene,
toe hy namens u volk gepleit het
om na hulle om te sien tydens u verlossing.
Aan u verbondsgenade hou ek/hou ons vandag vas.
Here, roer die begeerte in ons harte na U.
Luister na ons smeekgebede,
as ons soos Moses, voor U staan.
Amen