Bruilofsfees van die Koninkryk

Uit die Revised Common Lectionary (RCL)

Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 20 Oktober 2023

 

MATTEUS 22:1-14

In Matteus 22 gaan Jesus voort om met die mense deur gelykenisse te praat. In vers 1-14 vertel Jesus van ’n koning wat ’n bruilofsfees vir sy seun voorberei het, om iets oor die aard van God se koninkryk mee te deel. Uitnodiging na en toegang tot die feesmaal is ’n belangrike tema in die kerklike seisoen van Koninkrykstyd. Dit is ook direk toepaslik vir ons nadenke oor dissipelskap en sluit aan by ons oordenkings van Matteus 21 (Revised Common Lectionary, Jaar A), die vorige twee weke.

Jesus is in Jerusalem kort voor die viering van Paasfees. Die Jode het ’n groot verwagting gehad dat die beloofde Messias sou kom om hulle te bevry. Volgens Joodse voorstelling en inbeelding, was Israel deel van God se uitverkore volk wat na die spesiale feesmaal van die Messias uitgenooi is. Met die gelykenis van die bruilofsfees stel Jesus dat die koninkryk van die hemele soos die grootste denkbare fees is wat die rykste voorstelbare persoon aanlê vir viering. Dit is ondenkbaar dat enige genooide gas nie hierdie moeder van feeste sal wil bywoon nie. Tog gebeur presies dit.

Jesus het tydpens sy aardse bediening Homself in woord en daad bekend gemaak as die Messias. Wie Hy egter was en wat Hy verkondig het, het nie gestrook met die Jode se Messiasverwagting nie. Jesus se boodskap en die Jode se verwerping daarvan het ’n klimaks bereik in die week voor Paasfees. In dié tyd maak Jesus dit duidelik dat diegene wat Hom verwerp het, God se uitnodiging sou verbeur en slegs veroordeling moes verwag.

Vir ons besinning oor dissipelskap is die hoofklem van die gelykenis belangrik. Dit gaan oor hoe mense reageer op die uitnodiging na die fees toe en die gevolge van hul keuse. Aanvaarding van die uitnodiging na die bruilofsfees lei tot lewensveranderende deelname aan God se Groot Bruilofsfees. Verwerping van die uitnodiging of ’n ligtelike omgang daarmee sonder lewensverandering, lei tot veroordeling. Die tweede deel van die gelykenis oor die man sonder ’n bruilofskleed waarsku teen ’n misverstaan dat die wye uitnodiging genoegsaam is vir insluiting by die bruilofsfees. Selfs hulle wat gekies het om die Here te dien, moet toegewyd leef in hul verhouding met God in Christus.

In die gelykenis verteenwoordig die slawe Jesus se dissipels. Hy stuur hulle om mense uit te nooi tot deelname aan God se koninkryk. Die herhaalde opdrag om te gaan en ander gaste te nooi, beklemtoon God se genade vir sondaars en sy wil dat almal ’n keuse sal maak vir of teen God se uitnodiging. God se oorvloedige genade vra van Jesus se dissipels om sonder ophou uit te reik na die wêreld met die verkondiging van die evangelie van Jesus Christus.

Die reaksie van die verskillende groepe genooides en die motivering vir hul besluit om nie die fees by te woon nie, maak ons daarvan bewus dat die roeping tot dissipelskap en die taak van verkondiging nie eenvoudig en voorspelbaar is nie. Dit beklemtoon ook dat Jesus se dissipels beide insig moet hê in die aard van mense, asook kennis van God se grenslose genade. Die verrassing is dat God die bruilofsaal vul met mense wat dalk nie die dissipel van Jesus se goedkeuring sou wegdra nie. Sien jy kans vir die uitdaging om ’n gestuurde van God te wees?