Die onlangse sakeontbytgeleentheid van Arbeidsbediening George
Op Donderdagoggend 5 Oktober was dit weer weens ‘n groot hoogtepunt op Arbeidsbediening George se kalender toe hul jaarlikse sakeontbyt by die Victoriabaai B&B plaasgevind het.
“Dit was ‘n baie geslaagde en inspirerende byeenkoms,” vertel ds Floors Meyer, hul PAK (plaaslike aksiekomitee) -bestuurder, asook opleidingskoördineerder.
“Die ontbyt is deur 50 sakemanne, werkgewers, middelvlakbestuurders en werknemers, ‘from all walks of live’, bygewoon,” vertel Floors. “Daar was merkwaardige getuienisse van die impak wat Arbeidsbediening op ons dorp se plekke van werk het.”

Die hoofspreker van die sake-ontbyt was Stefan van den Berg, bedieningsleier van dia-LOGOS. “Daar is ‘n verskuilde geleentheid in elke probleem,” het hy gesê. “Ook in die werksplek waar personeelverhoudings soms groot uitdagings bied. Die ‘moeilike’ mense in ‘n organisasie het gewoonlik enorme potensiaal wat net op die regte manier ontsluit moet word.
“Arbeidsbediening se werk kan ‘n groot verskil in die werksplek maak. Veral as dinge moeilik raak, kan gelowiges versoening help bring. Kom, laat ons soos Jesus ons alles vir almal gee,” het Van den Berg gesê.
Werknemers wat deur Arbeidsbediening bedien word, vind besonder baie baat daarby. “Weeklikse besoeke van ‘n Arbeidsbedieningsdienswerker, Breggie Barnard, beteken baie vir ons personeel.” So vertel Hennie Coetzee, bestuurder van die JJ Watson Tehuis vir Bejaardes.
Barnard bedien ook tussen 30 en 40 werknemers van die Watson-slaghuis en ongeveer 60 mense by die Tikketai-verpakkingsaanleg. Vir baie mense is dit die enigste keer in die week wat hulle die Woord hoor; Arbeidsbediening bring die kerk na mense van wie baie dalk andersins nooit die Woord sou hoor nie.
Die plaasbediening van George in die landelike omgewing beteken ook baie vir plaasarbeiders. Hendrik Nkanyane van die Skimmelkrans-boerdery het getuig hoe dit sy lewe verander het. “My lewe het postief verander en ek en my gesin het nuwe hoop gevind.”
“As die hart van ‘n stad swaarkry, kry die stad swaar. Die markplek en ekonomie is die hart van die stad.” So verduidelik ds Floors Meyer.
“Die missie van Arbeidsbediening is om deur evangelisasie in die markplek mense te bevry van ‘n slagoffermentaliteit en gesonder onderlinge verhoudings te bewerkstellig. Dit het uiteindelik ‘n positiewe impak op die besigheidsomgewing.”
Arbeidsbediening George fokus op vier sektore, naamlik handel en nywerheid, die owerheid, die landbou en onderwys. Hulle het 19 dienswerkers wat met hul weeklikse besoeke 370 mense bereik.
Kontak ds Floors Meyer by floors@mweb.co.za vir meer inligting.