God regeer in heiligheid

RCL JAAR A – EEN EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 99, saam met Eksodus 33:12-23)

Here, ons hoor hoe die psalmis
die geloofsgemeenskap van sy tyd
aanmoedig, inspireer, in beweging bring,
om te reageer op hul ervaring dat U hul lewe beheer.

U heerskappy, Here –
troon oor gerubs en is verhewe bo volke.
Daarom moet almal op u koningskap reageer:
bewend, sidderend en lofprysend in aanbidding.

Here, ons hoor dat gelowige voorgangers –
U aangeroep en U hulle geantwoord het.
Daarom moet ons in aanbidding voor U buig.
U is die Koning wat die reg liefhet.

Die getuienis van voorgeslagte troos ons, Here.
Hulle het ervaar dat U antwoord,
wanneer hulle U aanroep.
U was vir hulle ’n God wat vergewe.

U het bevryding bewerk –
en nuwe lewensmoontlikhede geopen.
Maar U het ook hul dade vergeld, Here.
U wat billikheid, reg en geregtigheid vestig.

Heilig is U, Here.

Vandag roep ons U aan soos Moses in Eksodus 33:15.
Ons pleit om u teenwoordigheid op die pad,
wat ons in onseker tye moet bewandel.
Dankie vir die genade waarvan U Moses verseker het.

Nou wil ons ook gehoorsaam in aanbidding reageer.
U het ons van sonde bevry, die toekoms oopgemaak.
U heerlike genade omvou ons oral en altyd.
Heilig, is die Here, ons God.

Amen

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *