Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Een en Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 27 Oktober 2023
MATTEUS 22:15-22
Hoofstukke 21 en 22 van die Matteusevangelie vertel van verteenwoordigers uit ’n aantal groepe wat die Joodse leierskap van Jesus se tyd gevorm het. Die onderskeie verteenwoordigers nader Jesus met vrae oor die gesag waarmee Hy optree (21:23-27), oor die opstanding uit die dood (22:23-33) en oor die Wet (22:34-40). Matteus 22:15-22 is die eerste van vier opeenvolgende strydgesprekke waarin Jesus met die godsdienstige leierskap van sy tyd gewikkel is. Die Joodse leierskap was daarop uit om Jesus uit te lok, Hom by die volk in onguns te bring én om Hom gevange te neem.
In dié eerste strydgesprek konfronteer ’n vreemd-saamgestelde groep vir Jesus. Die antagoniste is mense wat in die Joodse samelewing nie oog tot oog met mekaar gesien het nie. Tog staan hulle hier saam teen Jesus. Die Fariseërs verteenwoordig die godsdienstige elite, terwyl die Herodiane die gehate Romeinse politieke onderdrukker ondersteun het. In die daaglikse politiek het hulle niks met mekaar gedeel nie. Hul vyandigheid teenoor Jesus was egter gemene grond om alliansies te vorm. Vir besinning oor dissipelskap en navolging van Jesus, is die vraag oor met wie jy assosieer wel belangrik.
Die vreemde groep saamspanners benader Jesus met ’n valse strategie. Hulle beoog om Hom as vyand van die Joodse volk voor te stel, asook as ondergrawer van die Romeinse onderdrukker. Jesus sien egter deur hul planne en plaas sy vinger op die skynheiligheid van hul optrede en die oneerlike motiewe wat hulle optrede aanvuur. Jesus identifiseer hul toenadering tot Hom as uitlokking. Ook hierin is daar ’n les te leer oor wat dissipelskap behels en waartoe gevaarlike assosiasies en valse motiewe kan lei. Moenie Jesus toets met vreemde genote se valse bedoelings nie.
Die vraag van die antagoniste aan Jesus verdiep die godsdienstig-politieke verskille in hierdie groep. Die Romeinse onderdrukker het die kopbelasting in 6 nC ingestel, wat groot spanning tussen die Jode en Romeine aangevuur het. Die Fariseërs het dié belasting verafsku en die Herodiane het dit ondersteun. Jesus versoek die ondervraers om ’n munt uit hul sak te haal en vir Hom te bring. Die afbeelding van die keiser op die munt en bewoording daarby het hul huigelary beklemtoon. Die Fariseërs staan in hul godsdienstige plek en neem ’n munt uit die sak wat die keiser tot afgod verhef: “Tiberius Ceasar, Augustus, seun van die god Augustus”, aan die een kant en: “Pontifex Maximus” (hoëpriester), aan die ander kant van die munt. Hul skynheiligheid verdiep en hul assosiasie is ontbloot.
Dan kom Jesus se verrassende woorde: “Gee aan die keiser wat hom toekom en aan God wat Hom toekom.” Vanuit een perspektief blyk dat Jesus die standpunt bevestig dat Christene hulself moet onderwerp aan die gesag van die owerhede. Vanuit ’n ander perspektief beklemtoon Jesus egter die omvang van God se heerskappy en gesag. Alles behoort aan God! Jesus relativeer die imperiale aansprake van die Romeinse owerheid. Nie Keiser Augustus nie, maar God is Heerser. Jesus bevestig God se eienaarskap en heerskappy. Met wie assosieer sy antagoniste? En wat van Jesus se dissipels?