God is ons huis

GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 30 OKTOBER 2023
RCL JAAR A – TWEE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD

(Gebed na aanleiding van Psalm 90:1-6, 13-17, saam met Levitikus 19:1-2, 15-18)

Heilige Here, ewige God –
U roep in Levitikus 19 die Israeliete op,
om heilig te wees omdat U heilig is,
en om hul naaste lief te hê soos hulleself.

U oproep tot heiligheid en naasteliefde –
roer ’n ervaring van langdurige geborgenheid
diep binne-in my gees.
Dit laat my tuis kom by U wat Heilig en Liefde is.

Die psalmis onthou U verbondstrou oor geslagte heen.
Hy dink terug oor waar hy op sy lewenspad
u teenwoordigheid ervaar het.
Die bidder weet nie van ’n tyd toe U afwesig was nie.

Daarom nader ek ook in gebed tot U, die Ewige.
Ek bely dat U reeds voor die skepping daar was,
dat u wese nie ingeperk word deur my gebrekkige insig
oor die ontstaan van die skepping en my nietige begrip van tyd nie.

Wanneer die psalmis my herinner dat U oor my lewe beslis, Here –
gryp sy beeld my aan wanneer hy U beskryf as ’n woning.
Dié beeld verwoord ook my ervaring
van diep en langdurige geborgenheid in U.

Om U te ervaar as ’n woning soos die 2020-vertaling dit stel –
roer veel dieper in my as die benoeming van U as toevlugsoord.
Ja, U is óók ’n toevlugsoord en veilige plek,
maar by U as woning, kom ek uiteindelik tuis waar ek hoort.

Dankie, Here, dat U van geslag tot geslag ’n woning was –
maar dat ek dit persoonlik ook nou kan beleef.
U, die heilige Here en ewige God, is mý woning.
Daar leer ek om heilig te wees en my naaste lief te hê.

Heilige Here, ewige God:
Ontferm U oor my / oor ons.
Versadig my / ons met u troue liefde.
Laat u goedheid oor my / oor ons wees.

Mag my / mag ons handewerk –
heilig wees soos wat U vra,
en liefde betoon aan ons naaste.

Amen