Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Twee en Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 3 November 2023
MATTEUS 22:34-46
Matteus 22:34-46 kombineer Jesus se laaste twee strydgesprekke met die godsdienstige leiers van sy tyd. Die Joodse leierskap konfronteer Jesus eers met sy kennis van die Joodse wette (vers 34-40), waarna Jesus die Fariseërs op sy beurt konfronteer oor die identiteit van die Dawidiese Messias (vers 41-46). Vers 34-40 bied Jesus se uitleg van die dubbele liefdesgebod. Hy word gevra na een gebod, maar reageer met twee gebooie (aanhalings uit Deut 6:4-5 en Lev 19:18 onderskeidelik). Die konfrontasie gaan óók oor die identiteit van Christus, die Messias (vers 41-46). Dit vorm die klimaks van die antagoniste se uitdaging oor die gesag waarmee Jesus optree (vgl. Matt 21:23).
Die strydgesprekke in Matteus 22:34-46 verteenwoordig die klimaks in die konflik tussen Jesus en die Fariseërs. Dit is as’t ware die finale openbare (publieke) dispuut tussen Jesus en die Skrifgeleerdes, voordat Jesus voor die Joodse Raad (Matt 26:57-68) en Pontius Pilatus (Matt 27:11-31) sou verskyn, skuldig bevind en gekruisig word. (Matt 27:32-56). In hierdie dispuut oor vrae aangaande die grootste gebod en die identiteit van die Christus, erken Jesus die noodsaak van ’n antwoord, asook die geldigheid van die vraag. Dit is ’n wesenlike vraag oor lewe en dood.
Die kern van die wetsgeleerde se vraag aan Jesus het te make met die interpretasie van die wet, terwyl Jesus se vraag aan die Fariseërs betrekking het op ’n profesie oor die Messias. Die dispuut gaan in wese oor die gesag en insig van die Fariseërs en oor Jesus se interpretasie van die Skrif. In ’n proses van onderskeiding word beide vrae opgeweeg en beoordeel. Op Jesus se vraag volg ’n berekende stilte met kommentaar dat niemand in staat was om Jesus te antwoord nie. Dit bevestig Jesus se gesag.
Beide die vraag van die Fariseërs en die vraag van Jesus is grondige vrae met konkrete implikasies. Die identiteitsvraag het betrekking op die hart van geloof in God. Dit gaan enersyds oor die identiteit van gelowiges, as diegene wat God en mekaar op sekere maniere liefhet. Andersyds gaan dit oor die identiteit van Christus, wat met die titel “Seun van Dawid”, allerlei verwagtinge en beelde by die Joodse gehoor asook by die Romeinse onderdrukkers, sou oproep. In Jesus se interpretasie is die Seun van Dawid die Een wat die redding en genesing van die skepper God bring vir die hele wêreld. Dit is dié boodskap waarmee Jesus se dissipels die wêreld van werk moet bedien.
Wat Jesus se dissipels nodig het is die oorvloedige liefde in ons lewe. Daardie liefde moet deur ons in alle rigtings vloei – na God, en na ander mense, asook na onsself. Liefde vir God, ons naaste en onsself is onlosmaaklik verbind. Liefde vir onsself moet onderskei word van ’n houding wat op jouself ingestel is. Ware selfliefde in Christus, trek ons uit ’n selfgerigte beheptheid en beweeg ons tot liefde vir God en ander mense. Ons is skepsele van God se onvoorwaardelike liefde. Daardie liefde is ’n transformerende krag wat ons juis op die wêreld rig. Dit is liefde wat die nasies van die wêreld genees.
Op hierdie twee gebooie berus die Wet en die Profete. Dit is wat belangrik is in God se koninkryk!