GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 6 NOVEMBER 2023
RCL JAAR A – DRIE EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 107:1-17, 33-37, saam met Josua 3:7-17)
Here, God van die verbond met Israel –
die psalmis roep gelowiges op om U te dank.
Die rede vir sy aanmoedigende oproep,
is u goedheid en die gelowiges se vryheid.
Maar is dié geloofsoproep van destyds,
ook op ons vandag van toepassing, Here?
Ek wonder persoonlik daaroor.
Wat sou my dank aan U nou inhou?
Die psalmis is nie daaroor onseker nie.
Hy / sy weet dat U goed is – God van Moses en Josua.
Die bidder ken u goedheid as troue liefde.
Dié gelowige praat selfs van u ewigdurende trou.
Wanneer dié dankbare bidder só oor U getuig, Here –
verkrummel my weerstand oor woestyntye
en versterk my vermoë om te onthou,
wat U ook in my eie lewe doen.
Ja, dan móét ek dit uitbasuin:
vir ewig duur God se troue liefde!
Die psalmis noem sy geloofsgenote, vrygekooptes –
op grond van wat U in hulle lewe gedoen het.
U het hulle vrygekoop,
uit die hand van teenstanders.
Ja, elke vrygekoopte
moet erken dat die Here goed is.
Dankbaarheid is die gepaste reaksie.
Ook óns moet U prys vir u troue liefde.
U het vir Israel by die Jordaan gebring,
om hul vryheid in die Beloofde Land op te neem.
Net so het ons geslag by Christus tuis gekom,
om u vrygekooptes te wees.
Hier staan ons dan met ons voete in die Jordaan.
Ons het u roepstem gehoor en die geskiedenis onthou.
Nou vertrou ons U vir die pad voor ons.
Ons wil die Here met ons lewe dank,
want U is goed.
Amen