GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 17 SEPTEMBER 2023
RCL JAAR A – SESTIENDE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
God bepaal die geskiedenis van sy kinders
(Gebed na aanleiding van Psalm 114, saam met Eksodus 14:19-31)
Here, God van Juda en Israel –
ons aanbid U as Vader van ons Here Jesus Christus:
Skepper, Herskepper, Maker van ons geskiedenis.
U woord hou ons bewus van u teenwoordigheid in ons lewe.
U is betrokke by die geskiedenis van u kinders,
in ’n wêreld, u wêreld, wat U onderhou.
Dat ons in U glo en mag aanhou glo –
berus daarop dat ons onthou wie U is,
en hoe U in die geskiedenis handel.
Die geloofsverhaal wat ons identiteit vorm –
vertel van u keuse om Israel uit Egipte te bevry.
U herinner ons aan die tyd –
toe U die farao van Egipte oorweldig het,
om Israel uit die verdrukker se land te laat trek.
Toe het U nuut begin met Israel, herskeppend.
Juda het u gewyde besit geword,
Israel die heilige grondgebied,
waar U openbarend teenwoordig was.
Ons geloofsverhaal oor Israel se bevryding uit Egipte –
maak dit vir ons moontlik om vandag aan U vas te hou,
terwyl ons sin maak van die spel van ons lewe.
U verhaal vertel van water wat oopkloof –
Israel wat droogvoets deur die see trek.
Dit getuig dat U skep en herskep,
dat U nuut begin én voortgaande bewaar.
U geloofsverhaal laat ons U vandag sien.
Dit vertel van Egiptenare,
wat van Israel af wegvlug,
omdat die Here vir Israel teen Egipte veg.
Here, ons sien met ontsag wat U nou vir ons doen –
en stel ons vertroue in U vir elke dag.
Amen