Wie sy medemens liefhet

Vyftiende Week van Koninkrykstyd: Vrydag 15 September 2023

 ROMEINE 13:8-14

 

Paulus sit sy tema van ‘sinvolle godsdiens’ (Rom 12:1, 2020-vertaling), of die ‘wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen’ (1983 AV), voort in Romeine 13:8. Die 2020-vertaling plaas vers 8-14 onder die opskrif, ‘Verdere voorskrifte’. Dit sluit aan by Paulus se gedagtes oor die wesenlike van die godsdiens en neem die tema van liefde in Romeine 12:9-21 verder. Daar het Paulus klem geplaas op die ongeveinsde liefde van die gelowiges in Rome, waardeur hulle die kwaad oorwin met die goeie.

In Romeine 13:8 stel Paulus nou die liefde vir mekaar en die medemens as ’n verpligting, ’n skuldlas. Hy gee riglyne aan die gelowiges in Rome oor hul gedrag binne hul konteks. Paulus adviseer oor wat dit behels om ‘Liggaam van Christus’ te wees. Hy is besorg oor hoe die Christus-volgelinge in Rome, meer geloofsgetrou die getuienis van Jesus Christus binne hul leefwêreld kan beliggaam. Dit is ’n belangrike fokus ook vir ons vandag, as gestuurde dissipels van Jesus vir diens in God se Koninkryk.

Paulus se woorde in vers 8b herinner aan Jesus se antwoord in Matteus 22:38-40 op die wetskenner se vraag na die belangrikste gebod in die Wet. Daar noem Jesus die twee gebooie waarop die hele Wet en die Profete berus: Die belangrikste en eerste gebod is liefde vir God, met die tweede wat hieraan gelykstaan, liefde vir jou naaste (vgl. Mark 12:28-31; Luk 10:25-28). In Romeine 13, waar Paulus sy lesers oor die praktiese godsdiens (etiek) onderrig, lê hy klem op die uitvoering (vervulling) van die Wet met die fokus op optrede teenoor die medemens, dus die tweede deel van die Wet.

In Romeine 12:9-21 het Paulus die gelowiges aangespoor om die kwaad met die goeie te oorwin. Nou beklemtoon hy dat die liefde waarborg (verseker) dat die kwaad teen die naaste uitgeweer word (vers 10b). Waar liefde heers in verhouding met die naaste, is die betekenis van die Wet en die Pofete sigbaar. Dit vervul die bedoeling van die Wet. Daar is dan nie kwaad teenwoordig nie. Gelowiges is die liefde verskuldig vir “sinvolle godsdiens”. Liefde vir die naaste is ’n verpligting, nie ’n opsie nie.

In vers 11 bring Paulus die tema van ‘die bestemde tyd’ ter sprake. Hy plaas onderrig oor naasteliefde binne die raamwerk van die naderende eindtyd. Hy beklemtoon die belangrikheid van die oomblik waarin sy lesers leef. Dit is juis die motivering om die liefdesgebod nou en dringend te beliggaam. Waar ons die liefdesgebod vir die naaste nastreef, is daar nie plek vir praktyke van die duisternis nie.

Die dringendheid van ons tydsgewrig, vra van dissipels wat die liefdesboodskap van Jesus ook na die werksplek uitdra, om die oomblik te gryp en wapenrusting van die lig aan te trek. In vers 14 spesifiseer Paulus sy aantrekmetafoor. Hy roep sy lesers op om hulle met die Here Jesus Christus te beklee. Gestuurdes van die Here mag nie die begeertes van die sondige menslike natuur vertroetel nie. As Liggaam van Christus moet ons op Jesus fokus. Sy wederkoms bring die einde van die tyd.