Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Drie en Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 10 November 2023
MATTEUS 23:1-12
In hoofstuk 23 van Matteus se evangelie handel Jesus se diskoers oor die leer en lewe van die Fariseërs, Saduseërs en Skrifgeleerdes. In Matteus 21 het die priester- en familiehoofde Jesus se gesag bevraagteken. Daarna, tot aan die einde van hoofstuk 22, bevestig Jesus sy gesag in reaksie op hul uitdagings. In Matteus 23:1-12 ontmasker Jesus die integriteitlose gesag van die Fariseërs en skrifkenners. Jesus ontbloot hulle lewenshouding (vers 2-7) en waarsku die skare en sy dissipels (vers 8-10) om nie dié selfvoldane voorbeeld na te volg nie.
Matteus se argument in dié twaalf verse is in die vorm van ’n teenstelling. Jesus begin met ’n karakterskets van die Fariseërs (mense wat die Wet van Moses toegewyd nagevolg het) en skrifkenners (professionele godsdienstiges wat teologies opgelei en as geestelikes georden is). Hulle sit op die gesagvolle stoel van Moses (vers 2, 2020-vertaling). Die kontras word in vers 8 beklemtoon: “Maar julle …” Jesus se beskrywing van en kritiek op dié twee groepe in die Joodse gemeenskap bied ’n profiel van geloofspraktyke wat nie tot eer van God is nie. Jesus se gehoor moet nie dié praktyke navolg nie.
Die kenmerk van dié leiers is hul dubbelslagtige lewenswyse. Hulle woorde en dade stem nie ooreen nie. Die ironie is dat Jesus hul woorde aanbeveel: “Doen en onderhou dan alles wat hulle vir julle sê.” (vers 3) Wat die Fariseërs en skrifkenners egter doen, verwerp Jesus onomwonde: “Maar moenie doen wat hulle doen nie …” Hulle valsheid bestaan daarin dat hulle swaar laste op ander lê, maar self nie doen wat hulle van ander verwag nie. Hulle optrede is bedoel om deur mense gesien te word. Selfs hul gebedspraktyke is gerig op aansien van mense en nie op God nie. Hulle bied hulleself aan as geleerde leermeesters en gesagvolle vaders van die volk.
In Jesus se kontrasterende argument rig Hy die aandag van sy dissipels en die skare op dié Voorbeeld en Bron van hulle lewe, asook op die kenmerkende karakter van Jesus self. Nie die valse dubbelstandaarde van die Fariseërs en skrifkenners nie, maar die absolute Gesagsbron moet hulle lewenshouding rig. Jesus beklemtoon dat net Hy ons Leermeester is en dat God alleen die gesagvolle Vader van almal is. Dit is dié Bron waaruit Jesus se dissipels leef en dit is die inhoud van die boodskap wat Jesus se volgelinge na die wêreld moet neem.
Jesus beklemtoon verder die verwagte karakter wat sy dissipels moet kenmerk en die aard van hul onderlinge verhoudinge. Hulle is almal gelykwaardig voor God, hulle een Vader. Hulle is immers almal broers. Jesus se volgelinge is ’n gemeenskap van gelykes. Hy keer die waardesisteem van die Joodse leierskap om as Hy sy dissipels aanspoor om dienaars vir mekaar te wees. Dit is nie in hulle hande om hoë aansien onder mense te wil bereik nie. Nee, God sal hulle verhef as hulle mekaar dien.
God roep Jesus se dissipels om geloofspraktyke te vestig en te verkondig waardeur God se heerskappy en gesag tussen mense sigbaar word.