GEBED VIR DIE WEEK – MAANDAG 13 NOVEMBER 2023
RCL JAAR A – VIER EN TWINTIGSTE WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 78:1-7, saam met Josua 24:1-3a, 14-25)
Here, daar is tye wanneer ek meer as ander tye –
intens bewus is van die uitnemende voorreg
om deel te mag wees van die geloofsgemeenskap
vir wie U deur die Verbond aan U verbind het.
Met die naderende einde van die Kerkjaar –
en die aanvang van ’n nuwe tydperk met Advent,
begin die intense innerlike roering in my ontwaak,
van die toekoms wat nuut begin deurbreek.
In sulke oorgangstye, Here –
reflekteer u geloofsfamilie oor haar geloof in U
en haar roeping om aan die volgende geslag,
van die Here te vertel: van u mag en u wonders en u goedheid.
Here, in tye soos hierdie omhels ek opnuut die voorreg –
om die stem van geloofsvoorgangers te mag hoor.
Die Psalmis wat die geloofsvolk oproep om na God te luister.
Josua wat die volk by Sigem tot ’n keuse aanspoor – om God te dien.
Here, ek / ons wil luister na u woord wat tot ons kom.
Ons wil die volgende geslag aan U bekendstel.
Ons het u getroue teenwoordigheid beleef
en moet vertel dat die toekoms hoopvol is.
Ons kinders móét weet dat U Israel bevry het –
maar ook dat U ’n wet vasgestel het in Israel.
Die volgende geslagte moet leer op U vertrou,
sodat hulle nie hoop verloor in uitdagende tye nie.
Here, ek wil my vertroue in U stel.
Ons sal mekaar herinner aan u dade.
Ons sal mekaar aanspoor om te hou by u bevele.
Ek en my huis, ons sal die Here dien.
Amen