RCL JAAR A – 25ste WEEK VAN KONINKRYKSTYD
(Gebed na aanleiding van Psalm 123, saam met Rigters 4:1-7)
Here, die smeekgebed van Psalm 123:3 en 4 –
pluk soos sterk vingers aan my hartsnare:
“Wees ons genadig, Here,
want ons het meer as genoeg gehad van
die minagting van selfvoldane mense,
minagting deur hooghartiges.”
Wanneer ek dié woorde vandag hoor, God van Israel –
sien ek prentjies van vernietigende geweld in Gasa,
die voortslepende Russiese offensief in Oekraïne,
en die Israeliete se wrede mishandeling,
waarvan Rigters 4 vertel.
Die psalmis smeek U om genade, Here.
Hy / sy het ’n punt van versadiging bereik.
Die maat van minagting wat een mens kan verduur is vol.
Die gelowige smeekbede gryp mens aan die hart.
Selfvoldane mense se spotlag en minagting,
verontmenslik die waardigheid van u skepsel, Here.
Dit skroei tot in die diepste wese van u beelddraer.
Dit doen mense aan mekaar
en aan hulleself!
Maar te midde van ervarings van verontmensliking –
erken die psalmis sy / haar afhanklikheid van U, Here.
Die bidder bely geloof in U terwyl die spotlag diep verneder:
“Na U kyk ek op, U wat in die hemel woon.”
Dankie Here, vir die psalmis se geloofsles.
Vir gebedstaal vanuit menslike minagting na U toe.
“Ons rig ons oë op U, die Here ons God
totdat U ons genadig is.”
Leer my / leer ons om geduldig
op U wag, Here.
Wees my / wees ons genadig, Here.
Ons / ek rig die oë afhanklik op U,
totdat U ons / my raaksien.
Amen