Uit die Revised Common Lectionary (RCL)
Vier en Twintigste Week van Koninkrykstyd: Vrydag 17 November 2023
MATTEUS 25:1-13
Die woord “dissipelskap” is ’n gonswoord wat dikwels opduik en wat elke persoon met eie inhoud vul. Mense praat graag oor die vorming van dissipelskap. In Matteus 25:1-13 fokus Jesus op dissipelskap binne die konteks van die koninkryk van God en Jesus se wederkoms. Die 2020-vertaling tipeer dit as deel van Jesus se “Profetiese rede.” Matteus plaas Jesus se leringe in vyf blokke deur sy Evangelie. Die vyfde (laaste) blok behels hoofstukke 24 en 25, met klem op die eindtyd. In Matteus 16:21-28:2 (laaste fase van sy bediening) rig Jesus Hom tot sy dissipels, as kern van die nuwe gemeenskap van gelowiges.
In die vyfde leerrede deel Jesus met sy dissipels dat die tempel, die vernaamste simbool van Israel se godsdiens, binnekort vernietig sal word (24:1-2), asook dat sy volgelinge vervolg sal word op grond van hul geloof in Hom (24:3-28) en dat Hy op ’n onbekende tydstip in die toekoms terugkeer na die aarde (24:29-25:46). In Matteus 25:1-13 vertel Jesus die bekende maar ingewikkelde gelykenis oor tien meisies wat hul lampe geneem het om die bruidegom te ontmoet. Met dié gelykenis deel Jesus weer iets oor die aard van die Koninkryk: “Dan sal die koninkryk van die hemele wees soos …” (vers 1). Jesus onderstreep die onbekendheid van die naderende eindtyd en die noodsaak om waaksaam te wees in afwagting daarop en ter voorbereiding daarvoor (vers 13).
Hoe hoor en verstaan Jesus se dissipels die gelykenis oor tien meisies? Hulle het almal lampe geneem om die bruidegom te ontmoet. Tog word vyf van hulle as dwaas beskryf en die ander vyf verstandig. Die vyf dwase meisies het hul lampe geneem, maar nie voorsiening gemaak dat die bruidegom langer kan neem om op te daag nie. Die gevolg van hul kortsigtigheid was uiteindelik ’n katastrofe. Toe die talmende bruidegom uiteindelik opdaag, was hulle nie daar nie, omdat hulle olievoorraad opgeraak het en hulle dit moes gaan aanvul. Die ergste van alles is die woorde van die bruidegom toe hulle uiteindelik wel by die bruilof opdaag: “Amen, Ek sê vir julle: Ek ken julle beslis nie.” (vers 12) Maar dié wat gereed was, het saam met die bruidegom ingegaan na die bruilofsfees toe. (vers 10)
Met die oog op die tema van dissipelskaptoerusting bied die gelykenis heelwat uitdagende stellings wat dieper ondersoek moet word. Dit is juis die taak van die toegewyde dissipel (leerling/volgeling) van Jesus om diep en intens te luister na wat Jesus kommunikeer. Vir hierdie meditasie is die fokus primêr op die woorde van vers 13: “Wees dan waaksaam, omdat julle die dag en die uur nie ken nie.” Toerusting en geloofsvorming vir langdurige navolging van Jesus is deurslaggewend.
Vir dissipelskap is daar volgens die gelykenis ook ’n persoonlike element wat selfs nie deur die ondersteuning van medegelowiges vervang kan word nie. In die gelykenis doen die verstandige meisies die vreemde ding om hul beskikbare olie aan die dwase meises te ontsê. Jesus praat juis in Matteus 16:21-28:2 oor wat dié persoonlike voorbereiding behels en in die vyf blokke van sy leringe begelei Jesus sy volgelinge langsaam: Die Bergrede (Matt 5-7); Uitstuur van sy dissipels (Matt 10); God se koninkryk (Matt 13); Die kerk (Matt 18); Die eindtyd (Matt 24-25).
Die oproep in ons Skrifgedeelte is waaksaamheid! Wees gereed en voorbereid. Dissipelskap vra deurlopend toegewyde gemeenskap met Jesus wat op ’n onbepaalde tyd weer kom. Reflekteer gerus oor die volgende gedagtes in die lig van Jesus se oproep tot waaksaamheid: Mense met ’n visie op God weet dat God se tyd uiteindelik vir hulle sal aanbreek. God se beloftes sal oorgaan in vervulling. Voorbereiding sal uitloop op realisering.